Paarl Boys’ High het die afgelope Saterdag in die Faure-stadion te laat wakker geskrik, met die gevolg dat Paarl Gimnasium die Interskole-rugbywedstryd voor meer as 20 000 toeskouers welverdiend met 20-17 gewen het.
Kyle Smith, losskakel van die Gimmies, was Speler van die Wedstryd. Hy het nie net die spel in die eerste helfte gedikteer nie, maar ook broodnodige punte met sy skopskoen bygedra. Smith, wat volgens berigte vir minstens volgende jaar deur die WP-Rugbyunie gekontrakteer is, het die HJS-spelers met sy goed geplaaste skoppe telkens teruggedryf en die bal voor sy agttal gehou. Hy het self ook een uitstekende breekslag uitgevoer.
Langs Smith was die senter Kobus Blanckenberg ook ’n handvol vir HJS om te keer. Gimnasium se agterspelers het die voordeel gehad dat hul voorhoede hoofsaaklik in die eerste helfte die hef in die hand gehad het.
Met rustyd het Gimnasium reeds met 13-0 voorgeloop en vroeg in die tweede helfte was die voorsprong 20-0. In hierdie stadium het dit gelyk of Gimmies ’n wegholoorwinning gaan behaal.
Maar ’n rugbywedstryd bestaan uit twee helftes en net toe die toeskouers begin het om die Boishaaiers af te skryf, het hulle met mening teruggeveg. In hierdie opsig was die SA Skole-speler JC Mars (heelagter) uitstekend. Hy was elke keer ’n handvol wanneer hy aan die bal geraak het, so ook Jameel de Jongh (vleuel).
Ná ’n stillerige eerste helfte het die agtsteman Divan Fuller gehelp dat HJS ná rustyd die oorhand begin kry het. Hy was aan die voorpunt van sy span se terugvegpoging.
Die wedstryd het op ’n spannende hoogtepunt afgestuur, maar HJS se kanse was daarmee heen toe ’n strafskop net voor die eindfluitjie aan Gim toegeken is wat Boishaai se lot verseël het.
Gimnasium se afrigter, Pieter Rossouw, sal tevrede wees met die vertoning van sy span se voorspelers. Hulle het ’n wurggreep voorlangs gehad en veral in die lynstane die oorhand gehad. As die HJS-spelers hier beter besit kon bewerkstellig het, kon die telbord anders gelyk het.
Om die sege nog soeter te maak vir die Gim-afrigter, was dit ná nege jaar as hoofafrigter die eerste keer dat hy daarin kon slaag om Sean Erasmus uit te oorlê.
Punte:
Paarl Gim:
Drieë: Dawid Kotze, Hennie Otto; Doelskoppe: 2/2: Kyle Smith; Strafskoppe: 2/3: Kyle Smith.
Boishaai:
Drieë: JC Mars, Divan Fuller, Jameel de Jongh; Doelskoppe: 1/3 Daniël van der Merwe.