Die kranige netbalspeler Renske Stoltz, wat Suid-Afrika op nasionale en internasionale vlak verteenwoordig het, het onlangs besluit om uit professionele netbal te tree om die pos as hoofnetbalafrigter by die Hoërskool Paarl Gimnasium in Januarie 2023 te aanvaar.
“Ek het besluit om uit professionele netbal te tree en my fokus 100% op afrigting te plaas. Hierdie is die grootste geleentheid wat ek aanvaar het omdat ek mal is oor die skool se tradisie en omdat ek ’n baie trotse mens is wat graag wil deel wees van ’n trotse gemeenskap,” sê Stoltz.
Volgens haar glo sy sy kan ’n verskil maak aan die netbalspelers se spel sodat hulle op die hoogste vlak kan presteer.
Sy sê sy wil ’n pad saam met die spelers stap om hulle so goed as moontlik vir netbal op senior vlak voor te berei. “Ek het self in my loopbaan ’n paar hoogtepunte – asook heelwat laagtepunte – beleef, maar ek het baie daaruit geleer.”
Twee van haar hoogtepunte was haar insluiting in die spanne wat aan die Statebondspele en die netbal-Wêreldbeker deelgeneem het.
Die British Fast 5 is ook ’n toernooi wat haar altyd na aan die hart sal lê.
Netbal het van sewejarige ouderdom af soos ’n onblusbare vuur binne haar begin brand, maar sy erken sy kom uit ’n sportmal-familie. “Ek stel in baie sportsoorte belang en bring naweke weg van die netbalbaan deur om ander sportsoorte dop te hou. Ek hou baie van krieket, tennis en rugby. Ek het self ’n paar jaar in die hoërskool tennis gespeel en ek was mal daaroor.”
Stoltz sê sy beskou Maria Folau, ’n afgetrede Nieu-Seelandse netbalspeler, as rolmodel omdat sy haar as ’n vreeslose speler beskou. “Ek wil presies dít vir spelers leer – hoe om vreesloos te wees, gemaklik te raak om buite jou gemaksone te speel en hoe om jouself te back en te glo jy kan enigiets waarop jy jou kop sit, vermag,” verduidelik sy.
Op ’n persoonlike vlak beskou Stoltz haar as ’n buitelugmens wat daarvan hou om gehaltetyd saam met die mense vir wie sy lief is, deur te bring.
Sy geniet dit ook om kos te maak, koffie te drink en die beste wyn saam met vriende en familie te proe en te geniet.
“Waar dan nou beter om alles waarvan ek hou, sommer op een plek te kry – in die Paarl!”


