Tientalle oudstudente, ouers, onderwysers, leerders en belanghebbendes het Vrydag (22 November) bymekaar gekom om die opening van die Hoërskool Gimnasium Paarl se sport- en leefstylsentrum te vier.
Ná jare se beplanning is die droom van die skool uiteindelik verwesenlik. Die sentrum bied die geleentheid vir elke leerder om homself fisiek te versterk.
Die skoolhoof, Paul Viljoen, sê wanneer hy na die sentrum kyk, is die eerste gedagte wat by hom opkom een van ’n “diepe dankbaarheid”.
“Ons besef as ’n skool hoe bevoorreg ons is om so iets te hê. Ek meen daar is baie skole wat net die eenvoudigste dinge het. So, ons besef ons is regtig bevoorreg. Ek dink die tweede ding is die fasiliteit gee vir elke seun en meisie in die skool ’n geleentheid om aan hul fisieke gesondheid te werk. Daar is ook ’n mediese fasiliteit. So, as daar iets gebeur en iemand het ’n besering van enige aard, dan is die nodige biokinetikus en fisioterapeute hier om hulle dadelik by te staan.
“So ja, ons is sommer net saam met die kinders dankbaar en opgewonde. Die droom was so drie jaar en ons is nou so net aan die einde van die derde jaar en bevoorreg dat ons nou klaar is. Ons is dankbaar vir elke borg, donateur, oudstudent en elke gemeenskapslid wat dit moontlik gemaak het. Ons sal aktiewe geleenthede soek om die fasiliteit te deel met skole of families wat dit nodig het.”
Die geleentheid is ook bygewoon deur die skool se afgetrede skoolhoof Eddie Bateman. Hy het die eer gehad om saam met Viljoen die lint te knip voordat gaste genooi is om die sentrum van binne te verken.
“Sjoe! As jy so kyk, dis ongelooflik, maar dis amper soos toe ons die tweede astro-veld gebou het. Toe het iemand vir my kom vra maar hoekom doen Gim dit, want ons het ’n astro of wil ons maar nou net flashy wees? Wat is nou eintlik die doel daaragter? Ek is seker baie mense het seker dieselfde vraag gevra oor hierdie lokaal ook. Die dag toe ek die vraag gevra is, het ek vir die persoon gesê die doel van al ons ontwikkeling hier op die terrein is om die onsigbare sigbaar te maak. Hy het nie verstaan wat ek bedoel nie, en ek het gesê hy moet oor ’n paar jaar weer met my kom praat.”
Wanneer Bateman praat van die “onsigbare” verwys hy na al die droom- projekte wat die skool ’n werklikheid wil maak – sigbaar.
Hy voeg by: “In hierdie skool is daar soveel kinders wat talent het, maar partykeer is jou ruimte beperk. Daar is soveel kinders, as hulle net die kans kan kry, dan word hulle skielik iets.
“Dieselfde met hierdie fasiliteit, want die gimnasium wat ons het, is heeltemal te klein en dis basies net die seniors wat daar kan oefen. Die behoefte was altyd daar vir ’n ordentlike fasiliteit waar ons regtig aan al ons kinders aandag kan gee.”
Die bou van die sentrum vorm deel van 22 projekte wat tans aan ’t kom is vir Gim. Om die sentrum op die been te bring het sowat R22 miljoen gekos.
Jaap Hamman, voorsitter van die skool se beheerliggaam, sê die sentrum sal nie moontlik gewees het nie sonder die hulp van verskeie vennote.
“Ek dink dit is vir ons as Paarl Gimnasium ’n geweldige voorreg. Ons is geseënd dat ons die geleentheid het om ’n sentrum soos hierdie oop te maak. Die sentrum is bedoel vir al ons leerders, alle sportkodes en alle sportspanne. Dit kom nou al ’n tydjie aan. So, dit is ’n lang en harde pad. Dit is ons grootste projek wat ons nou al aangepak het. Ons visie in die skool is om ons leerders ’n kans te gee om hulle volle potensiaal te kan bereik in akademie, sport en kultuur.
“Ons het ’n lekker vangnet van ryke tradisies, Christelike waardes en ons probeer ’n leefwyse maak van uitnemendheid, diensbaarheid en integriteit. Ek dink hierdie sentrum gaan ons help. Dit gaan oor kondisionering en rehabilitering. Kondisionering natuurlik om hulself reg te kry vir die seisoen voor die seisoen begin, en rehab wanneer iemand tydens die seisoen seerkry. Hulle kry professionele mediese hulp voordat hulle weer teruggaan op die veld. Ons sien uit na die impak van die sentrum op ons leerders en dat hulle hul volle potensiaal kan bereik.
“Op die ou end gaan dit oor die leerders en wat ons terug kan gee vir hulle. Ons het geweldige klomp vennote gehad in die proses wat ons gehelp het met die bou van die sentrum. Vir hulle wil ons baie dankie sê want sonder hulle sou dit nie moontlik gewees het nie.,” voeg Hamman by.