Hoërskool Gimnasium Paarl het onlangs sy studenteraad (SR) vir 2021 aangekondig.
Die SR van die skool is die uitvoerende raad van leerders wat direk onder die daaglikse bestuur van die skool en skoolverwante aktiwiteite deur die skoolhoof, Eddie Bateman, en die skool se leierspan, resorteer.
Die SR streef daarna om die vyf waardes van die skool: lojaliteit, integriteit, verantwoordbaarheid, respek en diensbaarheid uit te leef. Hulle dien ook as skakel tussen onderwysers en leerders en is ook daar vir die handhawing van dissipline onder leerders.
Gim se SR word prakties ingespan by die beheer van aktiwiteite en werksaamhede van enige skoolgeleentheid. Hulle staan aan die hoof van die skool se verskillende leierskapskomitees: leerderleierskap; geestelik; kultuur; sosiaal; geboue en terrein; dienslewering; bemarking; dagskoliere; sport en koshuise.
As hoofde van dié komitees lewer hulle ’n reusebydrae om die aktiwiteite van die komitees te koördineer en te lei. Hulle stel die voorbeeld in hulle daaglikse handel en wandel.
Die raad funksioneer parallel met die Verteenwoordigende Raad van Leerders (VRL) wat die skool se leerders verteenwoordig en wat onder beheer van die skoolbeheerliggaam as beleidmakende gesag staan.