Twee Paarl-reuse het die afgelope naweek weer eens bewys waarom hulle ongetwyfeld die twee beste rugbyskole in die land is. Die Hoër Jongenskool Paarl het ‘n oortuigende 36-26 oorwinning oor Paul Roos behaal, terwyl Paarl Gimnasium vir HTS Drostdy met ‘n verstommende 92-12 oorwinning bloedneus geslaan het.
In ‘n wedstryd vol dramatiese wendinge het Boishaai die oorwinning behaal nadat hy op een stadium ‘n groot agterstand van 9-21 gehad het.
Die held van die dag was ongetwyfeld Boishaai se heelagter, Mark Grindlay. Sy skopstewel was absoluut betroubaar en het hom ‘n indrukwekkende persoonlike bydrae van 21 punte besorg.
Paul Roos het die wedstryd sterk begin en dit het aanvanklik gelyk asof die besoekers die oorhand sou kry. Gebrekkige dissipline het egter tot Paul Roos se ondergang gelei. Die wending in die wedstryd het vroeg in die tweede helfte gekom toe Gershom Pieters (slot) vir Boishaai oorgebars het vir ‘n drie wat die tuisspan vir die eerste keer laat voorloop het.
Gimnasium het ‘n uitstaande vertoning gelewer om HTS Drostdy met ‘n verpletterende 92-12-telling te klop. Die tuisspan het van die begin af gedomineer en reeds teen halftyd ‘n gemaklike 52-7 voorsprong opgebou.
Markus Muller (13) het sy staal getoon met twee drieë en vyf suksesvolle doelskoppe vir ‘n persoonlike telling van 20 punte.
Die Hoërskool Gimnasium bly dus op nommer een op die nasionale skolerugby-ranglys, en Boishaai tweede.