Die hervestiging van Wellington se gholfbaan in Stokeryweg is dalk nie meer net ’n droom vir vele nie, maar kan dalk net ’n tree nader wees aan waarwording.

Hierdie historiese gholfklub, een van die oudstes in die land, is ongelukkig die afgelope klompie jare geteister deur misdadigheid en die omgewing waarin die baan geleë is, is nie meer ’n wesenlike gebied vir ’n spog-gholfbaan nie.

Dus word dit tans oorweeg dat ’n private ontwikkelaar in samewerking met die Drakenstein-munisipaliteit aangestel word om die Wellington-gholfbaan te hervestig na Leeurivierplaas aan die oostekant van die dorp. Die projek is nog maar in die konsepstadium, maar baie positiewe terugvoering is tot dusver hieroor van die betrokke partye ontvang.

Die hervestigingsvoorstel van die klub het op ’n onlangse vergadering van die Wellington-gholfbaan se klublede 94% van die lede se steun geniet.

Die Drakenstein-munisipaliteit is ook in beginsel ten gunste van die konsep hiervan.

Koos le Roux, ’n burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur van die munisipaliteit, het gesê die ontwikkelaar, David Darley-Waddilove, sal Leeurivierplaas in ’n ruiltransaksie met die munisipaliteit koop om in die nuwe gholfbaan om te skep, en in ruil hiervoor sal die munisipaliteit die huidige grond waarop die baan is, vir kleinskaalse nywerheidsontwikkeling aan Waddilove oordra.

“Die Wellington-gholfbaan loop onder verskeie faktore deur. Ten spyte van die elektriese omheining word gereeld ingebreek waarna diefstal en vandalisme plaasvind. Ons lede word op die baan bedreig en die vullisstortingsterrein wat al hoe nader kruip, pla ook.”

Le Roux het gesê ’n finansiële impakstudie word op die oomblik oor die hele ontwikkeling gedoen en hierna sal die voorstelle vir openbare deelname oopgestel word.

Hy het ook beklemtoon dat so ’n ontwikkeling net soos met enige ander ontwikkeling ten volle aan al die munisipale regulasies, die normale dorpsbeplannings­proses, met inbegrip van omgewingsbeplanning, hersonering en onderverdeling, sal moet voldoen.

Indien die ontwikkeling van die nuwe gholfbaan voortgaan, sal die baan steeds ’n negeputjiebaan bly en ’n oefenbofbaan en addisionele oefensandkuile en setperk kan bykom.

Aangesien die terrein groter as dié van die huidige gholfklub is, kan nog twee bowwe moontlik bykom.

Die herehuis op Leeurivierplaas sal in die klubhuis omgeskep word.

Le Roux het gesê die plaas het voldoende water en dit sal bydra tot kostebesparings en die behoefte om in die baan se watervereiste te voorsien.

Klublidmaatskapkoste sal dieselfde bly en die gholfklub sal nie, soos bespiegel word, in ’n peperduur gholflandgoed herontwikkel word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.