Geniet ’n aand saam met die talentvolle Bosman Adama-koor in die Paarl-stadsaal.


Bosman Adama is ’n groot plaas in die Bovlei van Wellington, met ’n florerende gemeenskap wat al geslagte lank daar woon en werk. Die Draken­stein munisipaliteit se raadslid Rita Andreas het op die plaas grootgeword en op ’n jong ouderdom leer klavier speel. Sy was ook ’n stigterslid van die transformasiekomitee in 2008 toe 26% van die plaas deur die 260 permanente werknemers verkry is.

Sedertdien bestuur Andreas die Bosman Adama-koor wat al oral in die Boland opgetree en pryse by die jaarlikse Suidooster-fees in die Kunstekaap in Kaapstad gewen het. Sy was ook instrumenteel om deelname aan musiek-, dans- en sangkompetisies soos Agri’s Got Talent aan te moedig.

“Ons koor is mal daaroor om op te tree en daarom het ons besluit om ’n musiek­bly­spel te skep waar ons meer van die plaasgemeenskap as sangers, dansers en akteurs kan insluit,” verduidelik sy.

Die 30-sterk koor sal ondersteun word deur agt jong dansers van die plaas, asook plaaslike akteurs en soliste.

Andreas ken die agtergrond en geskiedenis van Bosman Adama en het besluit om ’n musiekblyspel vir die koor te vervaardig. Sy het ’n plaaslike bekende sanger van die Paarl/Wellington, Sydwell Beziek, gevra om ’n musiekblyspel te skryf en dit te regisseer.

“Die produksie heet Loadshedding Jukebox, the Review omdat dit ons erva­rings nou weerspieël, maar ook bekende gewilde liedjies van weleer insluit. Die gehoor gaan daarvan hou om saam te sing en op die maat te tik. Dit bied iets vir almal – van Bill Haley tot die Rolling Stones, Michael Jackson en selfs Bok van Blerk. Hierdie opvoering moet nie misgeloop word nie!”

Wanneer: 5 Oktober

Tyd: 19:00

Plek: Paarl-stadsaal, Hoofstraat, Paarl

Kaartjies (beskikbaar by deur): R100 vir volwassenes en R50 vir kinders

You need to be Logged In to leave a comment.