Die toneel in Paarl-Oos waar ’n man op 22 Oktober doodgeskiet en ’n ander gewond is.Foto:

Credit: SYSTEM

Klapmuts en Paarl-Oos het die afgelope week onder drie afsonderlike misdaadvoorvalle deurgeloop waarin ’n egpaar van die Bella Vista-landgoed aangeval, die eienaar van die Centre Point-kruide­nierswarewinkel geskiet en een mens in Paarl-Oos doodgeskiet en ’n ander gewond is.

Die Bella Vista-landgoed het op 19 Oktober onder vier inbrekers deurgeloop wat sowat R600 000 se goedere gesteel het toe hulle toegang tot die hoofhuis verkry het.

“Om 21:00 het die egpaar gaan slaap en is later wakker gemaak deur vier onbekende mans wat handskoene en klapmusse gedra het.

“Die verdagtes het toe die klere van die slagoffers geneem en dit geskeur en gebruik om hulle vas te bind,” volgens sers. Jacobus Moos, stasiebevelvoerder van die Klapmuts-polisie.

Volgens Moos het die verdagtes die man met ’n koevoet op sy bene geslaan, maar het hy geen ernstige wonde opgedoen nie.

Nadat die vier kwaaddoeners elektroniese apparate en juwele gesteel het, het hulle die man wat losgekom en om hulp geroep het probeer vang, maar hy het hulle ontduik.

Op 24 Oktober is die Centre Point kruidenierswarewinkel in Klapmuts se hoofstraat, oftewel die Ou-Paarlpad, ook beroof en die eienaar geskiet.

“Omstreeks 07:00 het die winkeleienaar sy kruideniersware­winkel geopen, en terwyl die personeel die winkel betree het, het vier onbekende mans met vuurwapens ook die winkel binnegegaan,” het Moos laat blyk.

Een van die verdagtes het die winkeleienaar met ’n vuurwapen gekonfronteer en kontant geëis waarna die eienaar toe aangerand is.

Die eienaar het ’n onbekende bedrag geld oorhandig, waarna een verdagte die eienaar se broer in die maag geskiet het.

“Die verdagtes het toe van die toneel gevlug, en die beseerde is na die Paarl-hospitaal geneem en is tans in ’n stabiele toestand,” volgens Moos.

Albei voorvalle word steeds ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Verder, op 27 Oktober, het ’n vragmotor wat drank vervoer, net ná die Klapmuts-verkeersligte omgeslaan.

Volgens Moos het ’n vragmotor wat van Stellenbosch gekom het in Wellington se rigting gery en net ná die Klapmuts-verkeersligte teen ’n afwaartse helling gestop.

Dit het veroorsaak dat die drank uit die vragmotor geval het.

“Die Klapmuts-gemeenskap en reisigers op die pad het die voorval gesien en die drank wat buite die vragmotor gelê het, opgetel.

“Met die bystand van private veiligheidswagte en wetstoepassers is verseker dat geen drank uit die vragmotor gesteel is nie,” volgens Moos.

As gevolg van die feit dat geen drank gesteel is nie, word geen diefstalsaak ondersoek nie.

In nóg ’n afsonderlike voorval in Fairyland in Paarl-Oos op 22 Oktober om 09:30 is ’n man doodgeskiet en ’n ander tydens ’n onderonsie gewond.

Dit is nie duidelik waaroor die stryery was nie, maar volgens ’n berig op Netwerk24 was die skietery nie bendeverwant nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article