Die bekende Kommaweer-kafee in Paarl-Hoofstraat, Suider-Paarl, was vandeesweek die jongste slagoffer van ’n gewapende rooftog.
Die voorval het Dinsdagoggend omstreeks 09:15 plaasgevind toe vier gewapende mans die kafee binnegestorm het.
Die rowers het die eienaar, ’n buitelander, glo met vuurwapens gedreig en hom na agter in die winkel geneem.
Hierna het hulle die kassier genader, wat só geskrik het dat hy al die geld wat in die kasregister was, in hul rigting gegooi het.
Die verdagtes het die geld gegryp en gevlug. Hulle was so haastig dat hulle van die geld op die toonbank agtergelaat het.
Dit is onseker presies hoe hulle gevlug het, maar volgens die polisie word bewerings ondersoek dat die verdagtes in ’n Toyota Avanza gevlug het.
Die polisie het egter nog geen bewys hiervan nie.
Die verdagtes het met slegs ’n klein bedrag kontant gevlug.
Die ondersoek duur voort en niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.