Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het Dinsdag die perseel besoek waar ’n brand by die Brandvlei-gevangenis Maandag buite beheer begin brand het.
Die media is genooi om die omvang van die brand saam met die minister te verken. Die brand het Maandagmiddag hoog teen die berghange begin en later na ’n stoor naby die berg beweeg. Die stoor is tot niet en het daartoe gelei dat van die gevangenes uit sekere geboue verskuif moes word omdat die gedeelte waarin hulle gehuisves was, naby die brandlyn was.
Lomala het ná die inspeksie van die terrein gesê hy is dankbaar oor die vinnige reaksie van die Breedevallei-brandweer asook dié van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM).
“Ek is bly dat hulle so vinnig kon reageer. Hulle almal, tesame met die beamptes by die tronk, is goed opgelei. Altesaam 349 gevangenes moes Maandagaand verskuif word en nie een het in die verskuiwing ontsnap nie,” het Lamola gesê.
Die gevangenes is meestal na ander geboue op die perseel verskuif en die jeug-gevangenes is na ander nabye tronke verskuif wat ook jeugtronke het, het ’n ander beampte verduidelik.
Die uitgebrande stoor was ’n sinkplaat-struktuur en het goedere – van skryfbehoeftes tot eiers – bevat.
Brandbestryders het met die minister en die media se aankoms opruimingswerk gedoen en die smeulende oorblyfsels onder beheer gebring.
Die grootste deel van die gebied wat deur die brand geraak is, was grond wat vir landboudoeleindes gebruik is. Geen diere is in die brand beseer nie.
Tydens die inspeksie het groot vlamme steeds teen die Brandvlei-berghange gebrand. Dit is later in die dag deur beide die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit asook die tronk se kommunikasie-beampte, Manuel Rooms, bevestig dat die brand weer teen die berg af beweeg en vinnig versprei het.
“Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdienste het bevestig dat die aktiewe brandlyn, voorheen hoër op in die Brandvlei-berg, afgesak het en tans op die terrein van die Brandvlei-gevangenis brand. Hulle word ondersteun deur die Breedevallei-munisipaliteit se Brandweerdienste en gebruik erkende brandbestrydingstegnieke om die brand te herlei. Geen verdere strukturele verliese het voorgekom nie en voldoende hulpbronne is ontplooi om deurlopende struktuurbeskerming deur die nag te verseker,” het Anesca Roodt, ’n woordvoerder van die KWDM, Dinsdag in ’n verklaring gesê.
Terselfdertyd het WhatsApp-boodskappe die ronde gedoen wat lui gevangenes het ontsnap en is op die N1 by die tonnel gevang. Die tronk het egter bevestig niemand het ontsnap nie.
Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder van die KWDM, het Woensdagoggend omstreeks halfsewe die volgende opdatering gestuur: “Die KWDM se branddienste kan bevestig dat daar geen aktiewe lyne is nie, hoewel daar baie klein warm kolle en verskeie smeulende dennestompe is. Buiten die stoor wat vernietig is, was daar geen skade aan huise of die tronk wat op die perseel geleë is nie. Geen strukture was op enige tydstip in gedrang nie.”


