Die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het die Vlakkeland-behuisingsprojek tussen die Paarl en Worcester, waar ’n eerste groep begunstigdes se huise met sonkragpanele vir geisers toegerus is, ter herdenking van Gestremdheidsbewusmakingsmaand besoek.
Die gratis installering van sonkragpanele vir geisers is ’n inisiatief deur die Wes-Kaapse regering en is op mense met gestremdhede gerig.
Vlakkeland is een van vyf projekte waarin 96 sonkragpanele vir geisers aangebring sal word.
Altesaam 56 huise sal met die panele toegerus word en tot nou is 46 reeds aangebring.
Die inisiatief is tans die enigste van sy soort in die land.
“Die installering van hierdie stelsel het my lewe ongelooflik ten goede verbeter,” sê Eunice Adams (58), een van die begunstigdes.
“As iemand met beperkte mobiliteit hoef ek nie meer myself te haas om dinge gedoen te kry voordat beurtkrag begin nie. Nie net het die Wes-Kaapse regering gehelp om ons van hierdie huise te voorsien nie, maar het ons nou verras met die toevoeging van hierdie sonkraggeiser.”
Simmers sê hierdie inisiatief is eksklusief aan die Wes-Kaapse regering. “Ons is bedag daarop dat behoeftige huishoudings een van die groepe is wat die ergste tydens beurtkrag geraak word. In die versagting van die energiekrisis waarmee die land gekonfronteer word, het dit duidelik geword dat ons hierdie inisiatief moet prioritiseer. My departement het R24 miljoen vir die suksesvolle lewering van hierdie projek bewillig.”
Mev. Johana Buys (70), ’n begunstigde wat in April eienaarskap geneem het, het die groot finansiële besparing beskryf, aangesien haar huishouding nou minder aan elektrisiteit bestee. “Ons maak nou staat op sonverhitting en ons elektrisiteitskoste is aansienlik minder. Ons kan dié besparing nou vir ander noodsaaklikhede gebruik.”
Simmers verwag om in die 2023-’24-boekjaar altesaam 976 sonkraggeisers aan verskeie projekte te lewer.
Simmers het sy besoek aan Breedevallei begin deur titelakte af te lewer. Die burgemeester Antoinette Steyn en die Breedevallei-munisipaliteit het die ontvangers van die titelakte van die Rouxpark-huurbehuisingseiendom geword. Simmers het die titelakte van dié eiendom, wat 34 huureenhede insluit, aan die munisipaliteit oorhandig.
In die oorhandiging van die titelaktes het Simmers gesê “hierdie oorhandiging is ’n aanduiding van die Wes-Kaapse regering se verbintenis om die sekerheid van verblyfreg te versnel en hierdie afwenteling van huurvoorraad is een so ’n inisiatief”. Die oordrag van hierdie titelaktes versterk ons vennootskap met die plaaslike regering verder. Dit bevry jou om te verseker dat die inwoners volstrekte eienaars word van die huise waarin hulle woon,” het Simmers gesê.
Tussen 2019 en nou het die departement meer as 27 000 titelaktes oor die Wes-Kaap heen afgelewer.