Inwoners van die klein Franse dorpie La Forêt-Fouesnant staan op die sekonde van die 11de uur van die 11de dag van die 11de maand om die gestorwe soldate van die Eerste Wêreldoorlog te vereer op Wapenstilstandsdag.Foto: Lise Beyers


Elke jaar op die 11de uur van die 11de dag van die 11de maand (11 November) kom mense oor Europa heen bymekaar om Wapenstilstandsdag te gedenk – die dag dat die Eerste Wêreldoorlog in 1918 tot ’n einde gekom het.

Hierdie dag dra ’n diep betekenis in veral Europa, waar die wreedheid van die oorlog sy merk gelaat het en der miljoene lewens op die bloedigste manier geëis het.

Ek bevind my vanjaar op hierdie dag op die Franse platteland, waar die dag op somber wyse as ’n nasionale vakansiedag gevier word.

Die land herdenk die opoffering van soldate wat hul lewe gegee het in die strewe na vrede. Wapenstilstandsdag is veral in Frankryk, wat slagvelde soos Verdun, Amiens en Somme – waar die berugte slag van Delville Wood ook plaasgevind het – ervaar het, is ’n dag van opregte eerbied.

Nagenoeg 1,4 miljoen Franse soldate het hul lewe verloor, om nie eens te praat van nog duisende burgerlike lewens nie. Historici beraam die totale sterftes in dié oorlog – militêr en burgerlik – op 40 miljoen.

Frankryk se grootste seremonie vir Wapenstilstandsdag vind plaas by die Arc de Triomphe in Parys. Hier lei die President van Frankryk die land in ’n huldeblyk aan die gesneuwelde soldate.

Hoewel die nasionale seremonie in Parys indrukwekkend is, word Wapenstilstandsdag ook intens in dorpe en stede oral in Frankryk beleef. Inwoners vergader in gemeenskappe oor die land heen by plaaslike oorlogsgedenk­tekens met kranse en blomme. Plaaslike veterane, staatsamptenare en skoolkinders neem aan dié seremonies deel, wat ’n generasie-oorgrens-teenwoordigheid aan die dag bring.

Hier waar ek is in La Forêt-Fouesnant bevind, drom die klein dorpie se inwoners – oud en jonk – saam, met die burgemeester aan die stuur van die seremonie by die dorp se oorlogsmonu­ment, om die gesneuwelde plaaslike soldate te eer. Die dorp se kinders word ook betrek om hierdie herinneringe aan toekomstige geslagte oor te dra.

Op die sekonde om 11:00 begin die seremonie met ’n kranslegging, waarna ’n minuut stilte volg. Enkele oorlogsve­te­rane uit die Tweede Wêreldoorlog met hul medaljes op hul lapelle vasgespeld staan en kyk met trane in hul oë.

Dit is ’n werklik emosionele ervaring, maar ook mooi om te sien hoe jonk en oud die gevalle soldate van tot meer as ’n eeu gelede eerbiedig en dankbaar vir hulle is vir die vrede wat uiteindelik verseker is vir die nageslagte.

Vir baie mense is Wapenstilstandsdag nie net ’n herdenking van die verlede nie, maar ook ’n herinnering aan die belangrikheid van volgehoue vrede en eenheid oor Europa heen. Of die rituele groot of klein is – dit dra by tot ’n kollektiewe geheue wat voortleef deur hierdie dade van eer en besinning.

You need to be Logged In to leave a comment.