’n Motoreienaar het groot skade opgedoen nadat haar motor Sondagaand (25 Augustus) in Klapmuts gesteel is en ’n paar uur later op ’n verlate stuk grond gevind is nadat dit gedeeltelik gestroop is.
Die motoreienaar vertel dat sy Sondagaand omstreeks 23:00 by ’n huis in Merchent-straat parkeer het, maar toe sy die volgende oggend in haar motor wou klim, was haar blou Hyundai i10 nêrens te vinde nie.
Volgens haar was dit Maandagoggend omstreeks 06:00 dat sy agtergekom het iets is nie pluis nie.
“Hulle moes dan my motor tussen Sondagaand 23:00 en Maandagoggend 06:00 gesteel het,” het sy vertel.
’n Klagte is toe dadelik by die Klapmuts-polisie aangemeld.
Volgens sers. Madilyn Dombas, ’n woordvoerder van die Klapmuts-polisie, was die motor voor die huis buitekant die hek geparkeer.
Sowat vier ure later, omstreeks 10:00, het ’n motoris die blou Hyundai op ’n oop stuk grond langs die Klapmuts- Simondiumpad gewaar in ’n gebied wat as “Spooky Town” bekend staan.
Dié gebied is agter die bekende rooi gebou waarin die Meem Alif-supermark geleë is.
Met die motoreienaar se aankoms op die toneel het sy haar motor gewaar waar dit gestroop en met verskeie stampplekke gelaat is.
Dit was ook vol modder aan die binnekant van die motor.
“My kar het in die modder vasgesit, en toe stroop hulle die kar omdat hulle nie verder kon ry nie,” het die eienaar gesê.
Volgens haar het die diewe al twee agterwiele asook die spaarwiel gesteel en die motor op verskeie plekke gestamp.
“Die kar is ook baie vuil aan die binnekant soos hulle uit die modder probeer kom het,” volgens haar.
“Die ruite is ook swart soos hulle [die diewe] gerook het, en die sitplekke is ook gebrand.”
Die motoreienaar het verduidelik dat sy op die toneel vir die Klapmuts-polisie gewag het om haar verklaring te neem, asook vingerafdrukke, maar volgens haar kon die polisie nie uitkom nie omdat hulle nie ’n voertuig gehad het nie.
Volgens die motoreienaar is die diens van die Klapmuts-polisie “teleurstellend” omdat hulle, volgens haar, nie stiptelik op haar klagte gereageer het nie, wat veroorsaak het dat sy self die polisiekantoor die afgelope Dinsdag moes besoek om die vordering van die saak op te volg.
“Ek gebruik my kar elke dag vir werk, en het nie meer versekering nie, dus is dit ’n groot terugslag,” het die motoreienaar gesê.
Volgens haar weet die Klapmuts-polisie wel wie een van die oortreders is en hulle het verduidelik altesaam drie diewe was betrokke. “Hulle [die Klapmuts-polisie] het gesê een van hulle [die diewe] is onlangs uit die tronk vrygelaat en hy het ook ’n fiets gesteel.”


