Met die Khampepe-verslag van 25 Oktober oor die Commission of Enquiry into Racism at Stellenbosch University kom Afrikaans die soveelste keer in die spervuur.

Om sake te vererger, het Suid-Afrika se geliefde Charlize Theron, die befaamde aktrise en moedertaalspreker van Afrikaans, dit goedgevind om die taal op SmartLess af te kraak.

Die flou humor van Theron se kommentaar verdwaal in swak tydsberekening – tong in die kies of te not.

As dit vir Afrikaanssprekendes teleurstellend was, hoeveel te meer die Khampepe-verslag en die paneelbespreking van 16 November vanjaar by die US se sakeskool, getiteld “Unpacking the Khampepe Report”.

Die ondersoek ontbloot nie die aard of omvang van rassisme by die universiteit nie, maar eerder die doeltreffendheid al dan nie van die strukture wat daargestel is om rassisme teen te werk.

Geen kwantitatiewe studie is oënskynlik gedoen nie.

Die kwalitatiewe studie is anekdoties en besonderhede oor die kulturele en linguistiese agtergrond van die deelnemers ontbreek. Stellings word nie gekonkretiseer nie.

Stellenbossers word byvoorbeeld gekarakteriseer as regsgesindes wat beledigend optree teenoor swart dosente en studente, maar bewyse ontwyk die leser. Terugvoer oor die fakulteit ingenieurswese se swak transformasierekord op personeelvlak sou gebaat het by ’n verwysing na die problematiek rakende Suid-Afrika se ingenieurspoel.

Die verband tussen die Khampepe-bevindings en die aanbeveling dat die taalbeleid van die US heroorweeg moet word, is duister. Wat duidelik is, is die onmin wat die verslag in die breë US-gemeenskap help saai.

Die USB-paneelbespreking lui soos ’n “woke”-riller. Die titel van die bespreking het die verwagting geskep dat die paneel die besonderhede van die verslag sou uiteensit en die gehalte daarvan oorweeg.

Die gesprek het egter neergekom op ’n aanval op die Afrikaner en die brandmerking van die verslag se kritici as rassistiese regsgesindes.

Die DA en die Afrikaanse koerante kom die slegste daarvan af.

Taaldiversiteit behoort die trots van Suid-Afrikaners te wees – nie ons Achilleshiel nie.

Dit wek darem ’n glimlaggie dat die taal van die Britse kolonialiste die voorkeurtaal by US kan wees.


Janine Maske
Janine Maske is ’n Brits gebore moedertaalspreker van Engels. Sy het in 2010 haar PhD in Afrikaans en Nederlands aan die Unversiteit Stellenbosch verwerf.

You need to be Logged In to leave a comment.