Hier is die bekommerde inwoners van Wellington wat Woensdag 14 Maart die Drakenstein-omgewingswag (DEW) se vergadering bygewoon het. Foto:


Vyfhonderd ton huishoudelike afval per dag sal ’n gesondheidsgevaar vir sowat 600 000 inwoners inhou.

Dít, indien die Drakenstein-munisi­pa­liteit sou voort­gaan om ’n verbrandings­aanleg by die stortingsterrein in Wel­ling­ton goed te keur – vir ’n groot ekono­miese hupstoot vir die dorp.

Die munisipaliteit het duidelik nie tred gehou met die kennis van verskeie lede op die Drakenstein-omgewingswag (DEW) nie asook ander kenners (omgewingsbewaring), insluitend ’n regsgeleerde en navorsers betrokke by internasionale omgewingsimpakstudies.

Paarl Post het al verskeie kere berig oor die voorgestelde ver­brandingsaanleg wat die huidige stor­tingsterrein gaan vervang en waar huishoudelike afval verbrand sal word om elektrisiteit op te wek.

Volgens die DEW se intensiewe studie en navorsing oor dié beoogde aanleg hou dit meer nadele as voordele in.

Die munisipaliteit is heeltemal bewus van dié planne, maar geen open­bare gesprekvoering soos munisipale wetgewing vereis, is tot dusver gehou nie.

Volgens ’n verteenwoordiger verbonde aan die departement van omgewingsake in die Wes-Kaap, wat die DEW se so­veel­ste vergadering verlede week byge­woon het, het die munisipaliteit regs­prosesse geïgnoreer om voort te gaan met hierdie aanleg.

Niemand van die oorspronklike besluit­­­nemers werk meer by die munisi­paliteit nie en dit beïnvloed gesprekvoe­ring tussen die partye. DEW en ver­skeie belangegroepe het hul teleur­stel­ling uitgespreek teenoor die munisi­paliteit wat weinig vergaderings bywoon en nie werklik die inwoners van Welling­ton se belange op die hart dra nie.

Die voorsitter van die DEW, Bernus van der Westhuizen, het in verlede week se DEW-vergadering bevestig dat huishoudelike afval ’n globale probleem is en nie net tot die Drakenstein se munisipale gebied beperk is nie.

“Die manier hoe die stortingsterrein in Wellington tans bestuur word, wek kommer. Veiligheid is on­doel­­treffend en die weegbrug by die hoofingang is reeds maande lank stukkend,” het hy gesê.

Volgens Van der Westhuizen het die DEW alle interne bronne uitgeput en die kwessie selfs tot op nasionale vlak geneem. Die munisipaliteit hou die publiek glo doelbewus in die duister oor die beplande ver­brandingsaanleg asook die newe-effekte daarvan.

Die gesondheid van die inwoners is uiters kommerwekkend. Volgens ’n omgewingsbewaringspesialis, betrokke by Wellington-gemeenskapsorg, is die openbare deelnameproses deur die munisipaliteit inderdaad geïgnoreer.

“Hul optrede grens aan gruwelike skending van menseregte en ’n klag is reeds by die Menseregtekommissie van Suid-Afrika sowel as die openbare beskermer aanhangig gemaak,” het ’n man wat anoniem wil bly, gesê.

Gesondheidsrisiko’s is groter as die werkgeleenthede wat dié aanleg gaan bied – potensiële werknemers van die aanleg is nie ingelig oor die impak van uitlaatgas op hul eie gesondheid nie. Die Drakenstein-gebied is een van die grootste omgewings wat vatbaar is vir ’n sekere soort kanker wat verder deur die aanleg se uitlaatgas aangevuur en deur asemhaling ingeneem sal word.

Volgens ’n video deur Groundwork, ’n groep ten gunste van omge­wings­bewaring in Suid-Afrika, hou die beplande verbrandings­aanleg groot gesondheidsprobleme vir Wellington in. Die gevare en skade vir menslike gesondheid is ongekend soos dit aan die hand van internasionale navorsing blyk, en is deur die DEW en verskeie rolspelers in die drukgroep teen die Drakenstein-munisipaliteit bevestig.

Huishoudelike afval wat hier ver­brand gaan word, gaan uit verskeie omliggende dorpe ingevoer word om die winsgewendheid van die aanleg te waarborg ongeag die langtermyngevolge op mense se gesondheid. Drakenstein-munisipaliteit het opdrag van die DEW ontvang om te antwoord oor die besluit oor die aanleg asook antwoorde te verskaf aan die publiek wat volgens bestaande wetgewing daarop geregtig is. Die munisipaliteit moet met ’n aksieplan vorendag kom hoe die huidige stortingsterrein optimaal be­stuur gaan word om sy leeftyd te verleng. Die departement omgewingsake het aanbeveel dat die munisipaliteit hom ten opsigte van herwin­ning in plaas van verbranding van huishoudelike afval moet inlig en by die beste praktyke gaan kers opsteek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 4 December 2025
    Paarl Post – E-edition – 4 December 2025

Gift this article