Bejaardes, afgetredenes en ouer mense word dikwels met verskeie negatiewe etikette bestempel, soos “sorglas op die ekonomie” of “grys tsoenami.”
Die wêreldbevolking van mense ouer as 65 neem vinnig toe, en die gevolge hiervan is merkbaar in die arbeidsmark en die lewensverwagting. Met die toename in lewensverwagting en ’n aftree-ouderdom van 60, word mense langer oud as wat hulle gewerk het. Dit bring uitdagings soos beleggings wat nie vohoubaar is nie en gesondheidsprobleme soos demensie, wat een uit drie mense ouer as 75 raak.
Amerikaners bestee miljoene aan anti-verouderingsprodukte en -behandelings, maar oudword bly onvermydelik. Die media dra by tot die idee dat oudword iets negatiefs is en help nie om mense voor te berei vir dié fase van hul lewe nie. Ageism dra verder by tot hierdie probleem, waar grappe oor ouer mense aanvaarbaar is, terwyl diskriminasie op grond van geslag of ras veroordeel word.
Demensie het een van die grootste vrese van mense geword. Hoewel navorsing gedoen word, is daar nog geen antwoorde oor die oorsake van demensie nie, en meer as 200 soorte is reeds geklassifiseer. Die fokus op die biomediese aspek van veroudering het veroudering in ’n mediese probleem omgeskep. Ouer mense word dikwels met pille en prosedures in ouetehuise bestuur eerder as om as volwaardige mense behandel te word.
Die medical gaze fokus slegs op die diagnose en negeer die mens daaragter. Ons vergeet dikwels die rol van die bewussyn of gees van die mens wat met demensie leef. Al kan ’n mens met demensie dalk nie meer goed kommunikeer nie, bly daar ’n diepgewortelde wete in hulle. Navorsing toon bewussyn verdwyn nie as gevolg van demensie nie, maar eerder deur die wyse waarop die wêreld met hulle omgaan.
Veroudering word gesien as iets wat medies bestuur moet word, maar dit is eintlik ’n natuurlike proses. Mense ouer as 55 ervaar steeds breinontwikkeling, met nuwe neurologiese paaie wat insig, wysheid en kreatiwiteit bring. Die uitdaging is dat die samelewing dié geskenke van veroudering ignoreer en ouer mense met ’n “afgedankte” mentaliteit te hanteer.
Ons wêreld het egter die wysheid en ervaring van ouer mense nodig om gemeenskappe beter te maak. In die Joodse kultuur verwys ‘Tikkun Olam’ na die herstel van dit wat gebroke is. Ouer mense is goed geplaas om hierdie rol te vervul – om met hul wysheid, deernis en vergifnis ’n bydrae tot die verbetering van die wêreld te lewer.
. Dr. Rayne Stroebel is GERATEC se besturende direkteur, wat ’n Ph.D in Dementia-studies het. Kom geniet ’n insiggewende oggend by Huis Vergenoegd in die Paarl op 20 September om 10:00 saam met dr. Stroebel ter viering van Wêreld-Alzheimersdag. Hierdie oggend sal waardevolle insigte lewer oor hoe om ’n gesonde liggaam en gees te behou terwyl ons oud word. Kaartjies is te koop by Huis Vergenoegd-ontvangs teen R80 per persoon. Die praatjie is gratis vir Huis Vergenoegd se inwoners. Almal is welkom.