Gesloer met restourasie van saal

Die verwoestende brand op 26 Oktober 2016 wat groot skade aan die historiese Goodnow-saal op Wellington aangerig het, het die afgelope week die Wellingtonse gemeenskap genoop om dringende vrae aan die bestuur van die Kaapse Skiereiland Universiteit v


Die verwoestende brand op 26 Oktober 2016 wat groot skade aan die historiese Goodnow-saal op Wellington aangerig het, het die afgelope week die Wellingtonse gemeenskap genoop om dringende vrae aan die bestuur van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) te stel.

Onder leiding van die Vriende van die Wellingtonse Museum het die gemeenskap hul bekommernis uitgespreek oor die oënskynlike gesloer om met restourasiewerk aan die gebou te begin.

Die Goodnow-saal is deesdae deel van die kampus van KSUT en tydens ’n besoek op 5 Februarie vanjaar het die bestuur van die universiteit en lede van die Vriende van die Museum saam op ’n restourasieprogram vir die erg beskadigde gebou besluit.

Dit het onder meer ingesluit dat van kosbare musiek-instrumente wat ná die brand onbeskermd onder die afgebrande koepel van die gebou gestaan het, onmiddellik na veiliger plekke geneem sal word. Daar is ook ooreengekom dat die afgebrande koepel en alle vensters wat deur die brand vernietig is, behoorlik toegemaak sal word terwyl daar met instansies soos die versekeraars en die Wes-Kaapse Erfenisraad oor die restourasie van die gebou onderhandel word.

Ondanks verskeie skrywes aan die bestuur van KSUT was daar teen die einde van Mei vanjaar nog geen teken dat enige van die voorgestelde planne uitgevoer is nie. Die Vriende van die Museum het daarom verlede week by ’n besoek aan die Goodnow-saal weer hul ontevredenheid oor die gesloer om die planne in werking te stel uitgespreek.

Hoewel die duur musiekinstrumente wel verwyder is, was dit te laat om die groot reëns wat einde Mei oor die gebied uitgesak het, vry te spring. Die koepel is ook nie tydelik bedek nie en die reënwater het verdere skade aan die vloere in die gebou aangerig. Daar word ook nou gevrees dat die rou stene in die mure van die gebou gaan begin meegee indien dit nie tydelik teen die reënwater beskerm word nie.

Volgens kenners wat onlangs die saal besoek het, veroorsaak die sloer ook dat die herstelkoste in die komende maande dramaties gaan styg en dat die hoër koste nie deur die versekering gedek kan word nie.

In hul pogings om wyer steun onder die publiek te werf om te help om die restourasie proses te bespoedig, het die Vriende van die Biblioteek daarin geslaag om die steun van verskeie groot organisasies te verkry. Onder die organisasies is die ATKV, Afriforum en die Vryheidsfront Wes-Kaap.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.