Die Drakenstein-munisipaliteit het die aankondiging van ’n “geskiedkundige” loonooreenkoms deur die Suid-Afrikaanse plaaslike owerheidsvereniging (Salga) verwelkom, waarvolgens Salga ’n 6% verhoging vir munisipale werkers oor die volgende vyf jaar beding het.
Ongeveer 300 000 munisipale werkers in Suid-Afrika is vir die volgende vyf jaar verseker van salarisverhogings wat bo die inflasiekoers lê, hoewel dit minder is as wat die vakbonde aanvanklik geëis het.
Salga het aangekondig dat hy die loonooreenkoms met die bedingingsraad vir plaaslike regering aangegaan het.
Anders as die gebruiklike drie jaar, sal dié ooreenkoms oor vyf jaar strek.
Volgens die ooreenkoms sal munisipale werkers terugwerkend vanaf 1 Julie 2024 ’n salarisverhoging van 4,5% vir die 2024-’25-boekjaar ontvang.
Vanaf 1 Maart 2025 sal daar ’n verdere verhoging van 1,5 persentasiepunte wees, wat die totale verhoging vir die jaar op 6% te staan bring, berig Netwerk24.
Vir die daaropvolgende vier jaar, tot en met Junie 2029, sal salarisverhogings bo inflasie wees. Die verhogings sal as volg verloop:
- 2024-’25: 6%;
- 2025-’26: Inflasie plus 0,75 persentasiepunt;
- 2026-’27: Inflasie plus 0,75 persentasiepunt;
- 2027-’28: Inflasie plus 1,25 persentasiepunte; en
- 2028-’29: Inflasie plus 1,25 persentasiepunt.
Die ooreenkoms volg ná intense onderhandelinge wat tussen 15 Julie en 15 Augustus 2024 by die bedingingsraad vir Suid-Afrikaanse plaaslike owerhede (SALGBC) plaasgevind het.
Op 15 Augustus vanjaar is ’n finale voorstel deur fasiliteerders gemaak wat deur alle partye as ’n billike kompromie aanvaar is.
Salga het benadruk dat die ooreenkoms die huidige ekonomiese uitdagings, insluitend hoë inflasie en beperkte fiskale hulpbronne, in ag neem.
Munisipaliteite het Salga opdrag gegee om ’n gebalanseerde ooreenkoms te beding wat die ekonomiese druk op werkers weerspieël, veral omdat baie munisipaliteite tans finansiële uitdagings in die gesig staar.
Seraj Johaar, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir korporatiewe dienste en beplanning, het by navraag gesê die loonooreenkoms is binne die mandaat wat deur Wes-Kaapse munisipaliteite verskaf is, opgestel.
“Drakenstein-munisipaliteit verwelkom dus die vyfjaarooreenkoms aangesien dit stabiliteit en sekerheid vir die volgende vyf jaar bied.
“Die munisipaliteit sal geen ontevredenheid oor die aankondiging by Salga aanmeld nie en ons voorsien geen uitdagings met die implementering van die ooreenkoms gedurende September 2024 nie. Die beslissing sal geen impak op dienslewering hê nie aangesien die verhoging in lyn is met die begroting wat in Mei 2024 deur die raad goedgekeur is,” sê Johaar.
Volgens die mees onlangse verslag oor munisipale uitgawes, wat in 2023 deur Statistieke Suid-Afrika uitgereik is, het plaaslike regerings in die boekjaar tot einde Junie 2023 altesaam R472 miljard bestee, waarvan R132 miljard aan salarisse gegaan het.
Nomakhosazana Meth, minister van indiensneming en arbeid, het beklemtoon dat konstruktiewe dialoog en die aanspreek van albei partye se behoeftes en bekommernisse gehelp het om ’n ooreenkoms te bereik wat ’n “meer eendragtige en produktiewe werkomgewing” sal bevorder.