Die Vroue-Landbouvereniging in Wellington, ’n landbougemeenskapsgroep, het ’n projek begin wat internasionale aandag getrek het.
Lede van die organisasie het Maandag 30 September ’n projek met die naam “Boks vir ’n Boervrou” van stapel gestuur en dit is al amper 8 000 keer op Facebook gedeel. Die twee organiseerders, Juanita Loubser en Karen Barnard, is sedertdien oorweldig met oproepe van moontlike skenkers van reg oor Suid-Afrika, verder in Afrika en selfs uit Europa.
“Dit is net wonderlik hoe mense betrokke raak,” het Juanita gesê.
Die doel van die projek is om skoenbokse in te samel wat items bevat wat deur boervroue in nood gebruik kan word. Idees van wat om in ’n boks te sit, sluit in toiletware soos sjampoe, tandepasta, reukweerder, skeermesse, lekkergoed wat nie smelt of breek nie, speserye, hawermout, noedels, tuna, suiker, pleisters, soppoeier en geblikte kossoorte.
“Jy kan wat jou sak pas in ’n skoenboks of ’n sesbottelwynboks pak, stewig in bruin- of koerantpapier toedraai en met ’n lint bind,” sê Juanita en verduidelik die projek is oorspronklik begin om boervroue in droogtegeteisterde gebiede by te staan, maar weens die geweldige steun het hulle besluit om boervroue landwyd by te staan. “Ons het van die begin af gesê ons gaan kyk hoeveel bokse ons kan versamel voordat ons die bestemming kies,” verduidelik sy. Groot groepe soos skole in die noorde en selfs mense in woonbuurte maak bokse op.
Juanita sê aflaaipunte is in al die groot stede en dorpe geskep.
Die projek sal tot die einde van Oktober duur en die VLV sal dan besluit watter vrag eerste waarheen gaan.
Hul grootste prioriteit tans is om vervoer te reël om die bokse by die ontvangers te kry. Juanita verduidelik weens die hoë volumes bokse moet aflewering deeglik beplan word. Hulle het al na koeriermaatskappye uitgereik vir bystand, maar hoop om nog ’n paar barmhartige Samaritane op te spoor wat hulp met vervoer kan verleen. . Lesers wat bokse wil skenk, kan Juanita Loubser by 083 264 9834 of Karen Barnard by 082 448 0690 skakel vir nog inligting oor aflaaipunte en wat die projek nog benodig.