’n Gesin wat ’n wynplaas in Bovlei buite Wellington besit, het die afgelope Vrydag (5 April) ’n huisrooftog en plaasaanval oorleef.
Volgens die gesin, wat om veiligheidsredes nie hul identiteit wil openbaar nie, het vyf verdagtes gewapen met vuurwapens en ’n panga hul huis om 21:00 deur ’n voordeur wat oopgestaan het, binnegekom.
Kol. Johan Barkhuizen, bevelvoerder van die Wellington-polisie, het die voorval aan die Paarl Post bevestig.
Die gesin verduidelik dat hulle vergeet het om die deur te sluit en dat hulle besig was om hul voete te vind ná ’n besige dag in die dorp.
Volgens hulle het die mans nie ingehardloop nie, en dit het ook gelyk asof hulle nie voorbereid was op die teenwoordigheid van die huisgesin nie en moontlik gedink het die huismense is nie tuis nie.
“Hulle het nie gekom om aan te val nie, maar eerder om te steel,” sê die gesin.
“Hulle [die vyf inbrekers] het nie eens vir wapens gevra nie; net vir geld en ander goed gevat waarop hulle hul hande kon lê.”
Met hul binnekoms het die gesin se 15-jarige dogter uitgehardloop na ’n ander huis op die plaas om hulp te ontbied, terwyl die ma en haar 14-jarige seun in die kombuis met ’n vuurwapen aangehou is, en die pa in die kantoor.
Die hele voorval het tussen 15 tot 20 minute geduur, volgens die gesin, en die verdagtes het besef hul tyd is beperk omdat die dogter reeds hulp gaan soek het.
“Ek het die eerste ou [verdagte] aangevat, maar toe besef daar is te veel van hulle. Hulle het toe my klere van my lyf afgeruk en ek het oorgegee en vir hulle geld wat in die kantoor was, gegee,” vertel die pa.
Die gesin verduidelik die vermoede is die inbraak en aanval was ’n “inside job”, omdat die verdagtes geweet het waar sekere items in die huis is.
“Hulle het by my seun se kamer ingegaan en hy het ’n gaspistool wat half weggesteek is, maar hulle het dit daar gaan uithaal.”
Uiteindelik het die vyf verdagtes weggery met ’n groot bedrag geld asook elektroniese toestelle, insluitend ’n televisieskerm, twee skootrekenaars, twee slimfone en ’n iPad, volgens Barkhuizen.
Die gesin kon die selfone se GPS-ligging optel tot in Mbekweni, maar volgens hulle wil die plaaslike polisie weens bendegeweld nie in dié gebied patrolliewerk doen nie.
Geen beserings is aangemeld nie, en die verdagtes is nog op vrye voet, sê Barkhuizen.
Beide die polisie en ’n private veiligheidsmaatskappy was op die toneel nadat die dogter met die hulp van ander inwoners op die plaas die polisie gekontak en die gesin die paniekknoppie kon druk toe die vyf verdagtes weggery het.
Die gesin vertel dat hulle nog in skok is en sukkel om snags ’n goeie nagrus te kry.
“As ’n mens wakker word, dan speel die situasie weer voor jou af,” sê ’n lid van die gesin.