’n Herrie het die afgelope week losgebars toe ’n gesin in Langstraat Noorder-Paarl deur die balju op straat gesit is.

Dié voorval het Woensdag ontvou toe ’n huisgesin hier deur die balju uitgesit is. Hierna is wyd op sosiale media beweer dat die balju wederregtelik opgetree het.

Maar volgens hofdokumente is ’n uitsettingsbevel reeds in Julie vir die familie se uitsetting uitgereik weens jare lange uitstaande huurgeld.

Die familie se prokureur het teen hierdie bevel geappelleer, maar dié is ook deur die hof van die hand gewys en die hofbevel is finaal geldig gemaak.

Een gedeelte van die gemeenskap was baie vinnig om die gesin te hulp te snel en het gehelp met ’n tent, komberse en dies meer, terwyl ’n ander deel kommer uitgespreek het dat die gesin intrek geneem het op ’n oop stuk grond in Langstraat en het gevrees dat ander plakkers sou aansluit.

Die gesin het tot Saterdagoggend daar tuisgegaan totdat hulle deur munisipale wetstoepassers aangesê is om te verskuif, waarna hulle blyplek gekry het by kennisse daar naby.

You need to be Logged In to leave a comment.