Argyl-straat waar die voorval plaasgevind het. Foto: Jana Scheepers


’n Huisgesin in Argyl-straat in die Berg-en-Dal-buurt in Wellington is Vrydagoggend (24 Mei) deur rowers in hul huis aangehou nadat vier mense die inwoners vroeg die oggend in hul slaapkamers oorval het.

Volges kol. Johan Barkhuizen, bevelvoerder van die Wellington-polisie, wat die voorval bevestig het, het die rowers om middernag op die huis toegesak, waarna die inwoners “wakkergeskrik en gesien [het dat die] verdagtes in [hul] huis [is]”.

Barkhuizen het bevestig ’n televisieskerm, selfone, skootrekenaars, beddegoed en klere is gesteel. Die rowers is ook weg met die gesin se Ford Ranger-voertuig, wat later op die R312 – ’n pad tussen Wellington en Durbanville – gevind is, sê die gesin, wat nie hul identieit genoem wil hê nie.

Die voertuig is tans in die besit van die polisie, en is deur middel van ’n opspoortoestel, wat in die bakkie geïnstalleer is, opgespoor, het die gesin verduidelik.

Die gesin het ook bevestig dat die rowers aangedring het op verskeie bankkaarte waarvan hulle die pinnommers verkry en ’n onbekende hoeveelheid geld getrek het.

Hulle [die rowers] was hier [binne die huis] vanaf middernag tot vieruur, en het ons in aparte kamers vasgebind.
Anoniem

“Hulle [die rowers] was hier [binne die huis] vanaf middernag tot vieruur, en het ons in aparte kamers vasgebind,” het een gesinslid vertel.

Volgens hulle was die man saam met een minderjarige seun in een kamer vasgebind, terwyl die vrou in ’n afsonderlike kamer saam met hul ander minderjarige seun vasgebind is.

Die seuns se ouderdomme is onderskeidelik vier en sewe.

Hulle [die rowers] het toegelaat dat my man met die [een] seuntjie speel en hom losgemaak nadat hy te besig geraak het.
Anoniem

“Hulle [die rowers] het toegelaat dat my man met die [een] seuntjie speel en hom losgemaak nadat hy te besig geraak het.”

Die gesin voer aan dat die voorval beplan was deur iemand wat hulle tydelik aangestel het om saam met hul permanente werknemers werk by hul huis te verrig.

Volgens hulle het die werker geweet hoe die huis se uitleg en veiligheidstelsel lyk.

Nadat die rowers weg is, het die man daarin geslaag om homself los te kry, waarna hy hulp ontbied het.

Volgens Barkhuizen is niemand in die voorval beseer nie, en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.