Gesin hoopvol tiener (16) lewe nog

Die familie van die vermiste Channelle Plaatjies bid en vertrou dat sy veilig huistoe sal terugkeer.

Samuel Jacobs, die vermiste Channelle Plaatjies, se pa skoffel Maandagmiddag by die vlak graf voordat 'n liggaam ontdek is. Foto: Rasaad Adams
Samuel Jacobs, die vermiste Channelle Plaatjies, se pa skoffel Maandagmiddag by die vlak graf voordat ‘n liggaam ontdek is. Foto: Rasaad Adams

Totdat finale bevestiging bekragtig dat die lyk wat Maandagmiddag in ‘n vlak graf langs die Allandale-gevangenis in die Paarl gevind is, dié van die vermiste Channelle Plaatjies (16) is, is haar familie hoopvol dat sy nog lewe – ten spyte daarvan dat ‘n skoen wat die familie as hare identifiseer het, ook in die vlak graf gevind is.

Twee van Paarl Post se verslaggewers het Maandagoggend (2 Junie) by Channelle se familie besoek afgelê om die feite oor die verdwyning van die tienermeisie te kry. Die besoek was ook ‘n poging om meer aandag in die gemeenskap te wek oor Channelle, wat op 14 Mei reeds spoorloos verdwyn het. Haar familie is rasend van bekommernis.

By hul woning in Smartie Town het Channelle se pa, Samuel Jacobs (47), en haar ouer susters gepraat oor hoe hulle die afgelope drie weke onverpoosd na die tiener soek – sonder enige sukses.

Die vermiste Channelle Plaatjies (16). Foto: Rasaad Adams
Die vermiste Channelle Plaatjies (16). Foto: Rasaad Adams

Op die betrokke dag wat sy die laaste keer lewendig deur haar gesin gesien is, was Channelle saam met haar ma, Hester Plaatjies (52), en haar susters uit.

“Ons het uit die dorp gekom en aan die onderkant [van Smartie Town] uit die taxi geklim. Channelle het toe vir my ma gesê sy gaan nou haar eie rigting in loop en my ma het vir haar gesê dis reg. Met dié wat sy loop, het ek en my ma en my niggie ook ‘n draai gestap,” vertel ‘n suster van Channelle, wat verkies om nie by die naam genoem te word nie.

“Met ons terugkeer het ons haar weer teen die pad gekry en my ma het vir haar geroep. My ma het vir haar ‘n geldjie gegee en met haar gepraat en toe is sy weer weg. Ná daai het ons huis toe gegaan en

Channelle het van daai dag af – die 14de – nog nooit huis toe gekom nie. Ons is nie gewoond Channelle bly ooit so lank weg nie. Ons is gewoond sy kom huis toe – sy kom was, eet en slaap en als. Maar dit wat nou gebeur het, is eintlik iets anders waaraan ons nie gewoond is nie.”

Channelle is daarna die laaste keer deur inwoners in Mosesstraat – sowat 320 m van hul woning – gesien.

“Dan is daar ook die nuus dat hy [‘n vriend van Channelle] uit die gevangenis gebel het om te sê hy het haar doodgemaak en ons moet haar liggaam in die bos gaan soek. Dis hoekom ons spesifiek na die bos toe gegaan het – agter Baseline – en by die damme gaan kyk het, want hy kon haar dalk in die dam gegooi het. Ons weet nie.”

Samuel Jacobs, pa van die vermiste Channelle Plaatjies, Maandagoggend tydens 'n onderhoud met die 
Paarl Post. By hom is Matilda "Claney" Plaatjies, sy dogter en Channelle se suster. Foto: Rasaad Adams
Samuel Jacobs, pa van die vermiste Channelle Plaatjies, Maandagoggend tydens ‘n onderhoud met die Paarl Post. By hom is Matilda “Claney” Plaatjies, sy dogter en Channelle se suster. Foto: Rasaad Adams

Channelle is verlede Woensdag (28 Mei) amptelik by die Paarl-Oos-polisie as vermis aangemeld nadat sy nie verlede week vir haar ma se verjaarsdag opgedaag het nie.

“Sy sal nooit my ma se verjaarsdag misloop nie. Dit is toe ons weet dat daar groot fout is,” sê Matilda “Claney” Plaatjies (21), nóg ‘n suster van die tienermeisie.

Die Paarl-Oos-polisie het die soektog na Channelle verlede Donderdag (29 Mei) en Vrydag (30 Mei) in die Baseline-gebied voortgesit.

“Die honde-eenheid was daar, die duikers was daar en die polisie het selfs die drone in die lug gehad, wat met sensors tot op die grond kan sien, maar hulle het niks gekry nie. Ons het wel bebloede klere daar gekry en twee pale [met bloed op] wat ons ingehandig het [by die polisie].

“Die een toppie wat ons opgetel het, behoort aan Channelle, en haar vaal jassie het ons aan die begin van die bosse gekry. Toe ons begin soek het, het ons eers op dit [die jassie] afgekom en die ander klere het ons in die agterkant in die hoek gekry,” vertel haar pa.

Ten tyde van die onderhoud was Channelle se ma by die Paarl-Oos-polisie om DNS-monsters te verskaf vermoedelik om dit met die bloed wat op die klere gevind is, te vergelyk.

Matilda het ook gesê daar is ‘n stuk versteurde grond wat sy tydens die vorige soektogte gesien het en wat haar verskriklik pla. Sy voel daar moet gegrawe word.

Na afloop van die onderhoud het Paarl Post die familie en die res van die soekgeselskap vergesel na “die bos”, waar die familie nóg ‘n keer gaan soek het. Die gebied is dig met bome en gras begroei, met baie water en modder ook. By nadere waarneming kan afgelei word daar is gereeld beweging in die gebied met die klere, skoene en allerhande vullis wat rondlê, asook wat lyk soos menslike afval.

Nadat die prosedures by die polisiekantoor afgehandel is, het Hester by die soekgeselskap aangesluit.

Die soekgeselskap-groep het versprei en deur die gebied gesoek. Matilda het teruggekeer na waar die versteurde grond is en gesê “dit lyk net nie normaal nie”. Dit was duidelik dat daar ‘n uitgrawing in ‘n vierhoekige vorm was. Bo-op het houtskool gelê wat lyk asof ‘n vuur daar gemaak is.

Terwyl die res oor en weer gesoek het, het Jacobs toevallig verbygeloop. Sy dogter het weer herhaal dat dié plek haar ongemaklik maak. Vir ‘n oomblik was dit net Matilda en Nicolene Plaatjies (32), nóg ‘n ouer suster van Channelle, wat teenwoordig was, saam met Jacobs, ‘n jongman van die soekgeselskap wat ‘n graaf en ‘n piksteel by hom gehad het, en die Paarl Post-span. Vir ‘n splitsekonde is net na die grond gestaar, voordat Jacobs vir die graaf gevra het.

Jacobs het in die teenwoordigheid van Paarl Post se verslaggewers begin grawe. Met die eerste paar skoffels het hy ‘n rooi toegeknoopte kondoom opgespit en dit met die graaf versigtig eenkant neergelê. Hy het verder gespit en die reuk van die dood – van iets wat ontbind het – het skielik in die lug gehang.

Jacobs het versigtig voortgegrawe met die reuk wat al hoe meer deur die grond gekruip het. Met nog ‘n skoffel het hy ‘n sandaal opgegrawe en dadelik opgehou. Matilda en Nicolene het die skoen herken en histeries begin geskree.

Almal het nader gehardloop. Toe sak ‘n emosionele chaos op die familie en die res van die soekgeselskap neer. ‘n Gekreun en geween het die lug gevul. Die familie was histeries en ontroosbaar.

Familielede van Channelle Plaatjies (16) het histeries geraak toe 'n skoen wat vermoedelik aan die tiener behoort in die vlak graf ontdek is. Foto: Rasaad Adams
Familielede van Channelle Plaatjies (16) het histeries geraak toe ‘n skoen wat vermoedelik aan die tiener behoort in die vlak graf ontdek is. Foto: Rasaad Adams

Speurders wat die soektog van ‘n afstand af waargeneem het, het hulle na die toneel gehaas en onmiddellik die gebied as ‘n misdaadtoneel afgesper. Dit was om 13:30.

Al die rolspelers, soos die forensiese patologiese eenheid van die polisie sowel as kol. Liticia Hans, die Paarl-Oos-polisie se bevelvoerder, was spoedig op die toneel. Die polisie het verder gegrawe. Teen 16:00 die middag is op die toneel bevestig dat ‘n lyk opgegrawe is.

Daar word vermoed dat die reuk van die houtskool het moontlik die snuffelhonde van die spoor af gegooi.

Nicolene sê die familie en veral haar ma het nog baie hoop dat Channelle veilig sal terugkeer huis toe.

Brig. Novela Potelwa, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het intussen bevestig dat die lyk wat opgegrawe is, dié van ‘n vrou is.

“DNS-toetse moet nog op die liggaam gedoen word om te bepaal of dit dié van die vermiste tiener, Channelle Plaatjies, is.”

Kapt. Basil Seekoei, ‘n woordvoerder vir die Paarl-Oos-polisie, het gisteroggend gesê ‘n lykskouing is uitgevoer en DNS sal vir ontleding na die forensiese laboratorium gestuur word.

Teen druktyd was die identiteit van die oorledene wie se liggaam gevind is, nog nie bekend nie.

You need to be Logged In to leave a comment.