Gerugte oor Rust-verdagte skok

Gerugte dat een van die verdagtes in die opspraakwekkende hofsaak van die moord op die bekroonde skrywer Winnie Rust in die tronk vermoor is, het Dinsdagaand skokgolwe oor sosiale media gestuur.


Gerugte dat Nigel Plaatjies, een van die verdagtes in die opspraakwekkende hofsaak van die moord op die bekroonde skrywer Winnie Rust in die tronk vermoor is, het Dinsdagaand skokgolwe oor sosiale media gestuur. Paarl Post kon egter nog geen bevestiging oor die beweerde voorval kry nie. Daar word wel beweer dat daar ‘n insident by die Allandale-gevangenis in Paarl-Oos was, waarby Nigel betrokke was.

Tans rep die korrektiewedienste nie ‘n woord nie.

Nigel en sy mede-beskuldigde en oom, Johannes Plaatjies word in dié tronk aangehou nadat hulle in Junie borgtog geweier is. Die twee het gister weer in die Wellington-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede. Nigel se nuwe prokureur Paul Marais het Maandag aan die hof gesê dat sy kliënt weer om borgtog gaan aansoek doen en dat hy nuwe feite voor die hof gaan bring. Die saak is tot 14 Oktober uitgestel.

Rust is in Mei dood gevind in haar huis in Uitsig, Wellington. Haar hande en voete was vasgebind en sy is verwurg.

Nigel is twee dae ná Rust se moord in hegtenis geneem. Sy vingerafdrukke is na bewering op ’n tafel langs Rust se lyk gekry.

Nigel se ma was die huiswerker van Rust se dogter. Rust het Nigel se skoolfonds betaal en sy sport gefinansier.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.