Gerhard Genade (46), ’n Paarliet in murg en been, is onlangs gekroon as die wêreldkampioen in skyfskiet nadat hy by die onlangse internasionale kampioenskap van 24 tot 27 Augustus in Hartebeespoortdam die mooiste gekorrel en die meeste punte aangeteken het.
Daarbenewens het Genade ook die gesogte FT-meesterskleurewapen vir sy goeie teikentelling losgeslaan.
Altesaam tien lande en 70 skuts het deelgeneem. Van die deelnemers, onder wie Genade, het ook individueel deelgeneem.
Buiten die titel as wêreldkampioen, het die Protea-span, waarvan Genade lid is, ook ’n eerste plek behaal. Suid-Afrika het dus skoonskip gemaak by vanjaar se kompetisie.
“ ’n Mens skiet drie dae lank aan 50 teikens per dag, en uit 150 teikens wen die persoon wat die meeste raakskiet,” verduidelik Genade.
Die skyfskiet-gogga het hom reeds in 2009 gebyt toe hy sy eerste windbuks gekoop het. Daarna is dit geskiedenis en hy het sedertdien aan sewe wêreldkampioenskappe deelgeneem. Hy is vanjaar die eerste keer as wêreldkampioen gekroon.
“Ek het nog altyd van skiet gehou,” sê Genade en vertel dat skyfskiet ’n stokperdjie is wat hy nog lank sal beoefen.
Dié bobaas-teikenskut se stokperdjie vereis dat hy self die finansiële opofferinge moet maak wat daarmee gepaard gaan, maar bieg wel met ’n opgewonde glimlag dat sy gewere geborg word.
Een van dié magtige menere word binnekort van die Air Arms-vuurwapenmaatskappy in Engeland by sy huis afgelewer, nadat hy met sy eerste plek by die wêreldkampioenskap ook ’n geweer gewen het.
Volgende jaar se wêreldkampioenskap word in Arizona in Amerika gehou, en Bolanders kan op die uitkyk wees na hierdie Paarlse skyfskut wat hoop om Suid-Afrika weer te verteenwoordig.. Genade het in 1995 aan die Hoërskool Labori in die Paarl gematrikuleer, en werk tans by Babylonstoren as ’n meganiese tegnikus.
Hy sê sy familie is ook “baie trots” op hom.