Familie en vriende van die vermoorde Jade Williams (22), ‘n jong pa van Wellington, het verlede Vrydag (3 Oktober) in groot getalle by die plaaslike landdroshof opgedaag waar sy vermeende moordenaar weer verskyn het.
Williams se jarelange vriend, Edrique Langeveld, het hom glo op 16 Augustus doodgesteek.
Die voorval het etlike dae ná Williams se 22ste verjaarsdag asook die eerste verjaarsdag van sy babaseuntjie, Izayro Fortuin, plaasgevind.
LEES: Jong Wellingtonse pa (22) vermoor 5 dae ná sy seuntjie se 1ste verjaarsdag
Volgens bewerings het ‘n stryery tussen Williams en sy gewese meisie uitgebreek, waarby Langeveld glo betrokke geraak het.
Williams en Langeveld het glo self begin baklei toe Langeveld hom gesteek het.
Williams se pa het daardie dag met hom hospitaal toe gejaag, maar Jade is met hul aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Langeveld het glo van die toneel af gevlug, maar is later deur die polisie aangekeer en op ‘n klagte van moord in hegtenis geneem.
Hy is op 19 Augustus deur die Wellington-landdroshof op borgtog van R1 000 vrygelaat – ‘n besluit waarmee die familie baie ongelukkig was.
Paarl Post verstaan dat Langeveld Williams glo in die gesig, hand en bors gesteek het.
Die saak is die afgelope Vrydag na die Paarlse streekhof verwys, waar Langeveld na verwagting op 3 November sal verskyn.
Shementhea September, Williams se tante, het buite die hof aan die koerant gesê die familie sukkel nog om mooi te verstaan hoekom Langeveld op 19 Augustus “so maklik” borgtog gekry het.
“Ons het in daardie stadium baie seer gevoel. Ons harte was gebreek. Net om te dink hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat…
“Ons as familie is glad nie in daai besluit geken nie. Dit is nooit in die hof genoem dat ons sy bogtog teenstaan nie.
“Dit het ons baie geruk en soos Jade se pa ook gevra het – ‘was sy lewe dan ‘n duisend rand werd?’ ”
Sy sê sy het gemengde gevoelens ervaar toe sy Langeveld Vrydag in die beskuldigdebank sien.
“So baie dinge het as sy auntie deur my kop gegaan met die wete dat hy nie meer daar is nie.
“Ons kan nie eintlik oordeel nie. Wat gedoen moet word, moet gedoen word, maar niemand kan vir só ‘n daad skotvry wegkom nie.
“Geregtigheid sál geskied,” het September gesê.





