Groot dele van die Drakenstein-munisipaliteit ervaar gereeld verstopte dreine, wat grotendeels deur die storting van ongewenste voorwerpe veroorsaak word.
Van die gebiede wat gereeld met verstopte dreine worstel, sluit Amstelhof, Chicago en Smartie Town in die Paarl in.
Volgens ’n Amstelhof-inwoner wat op voorwaarde van anonimiteit met die Paarl Post gesels het, is dié kwessie ’n geskiedkundige probleem wat ten minste een keer per week in Amstelhof die kop uitsteek.
Buiten die pype wat verouderd is, en volgens die inwoner herstel moet word, is die storting van ongewenste voorwerpe die grootste bydraende faktor tot verstopte dreine.
“Hulle [Amstelhof-inwoners] gooi al wat ’n ding is in die drein af,” volgens die inwoner.
Dit sluit in sanitêre doekies, plastiek, visgrate en hoendervere.
“Op ’n kol het ons ook gesien hoe stukke van ’n wasmasjien by die drein afgegooi is.”
Daar was ook gevalle waar doodgebore premature baba’s wat weens miskrame gebore is, by dreine afgegooi word, volgens die inwoner.
“Strate in Amstelhof wat brandpunte is, sluit in Suikerbekkie-, Piet-My-Vrou-, Kanarie- en Jan Groentjies-straat, waar verskeie van die pyplyne bymekaar kom en blokkasies veroorsaak.
“Die mense [Amstelhof-inwoners] moet eienaarskap vat van wat hulle in die dreine gooi en luister as mense vir hulle sê om nie allerhande goed daar af te gooi nie.”
“Die departement van sanitasie was nou die dag hier, waar hulle aan deure geklop het om mense op te voed oor wat om nie in dreine af te gooi nie, maar die mense [Amstelhof-inwoners] steur hulle nie daaraan nie.”
Volgens die inwoner vind die verstoppings ook meer dikwels plaas in gebiede in Amstelhof waar daar informele nedersettings is.
Volgens Louis Pienaar, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, word dreine in die Drakenstein-gebied minstens twee maal per jaar skoongemaak.
“[Die munisipaliteit] kry verskillende ongewensde voorwerpe in die dreine. Dit sluit in komberse, handdoeke en verskillende soort plastiekvoorwerpe. Leë tweeliter-plastiekkoeldrankbottels (nie-inruilbaar) is die mees algemene item wat ons uit die dreine verwyder,” het Pienaar op navraag in ’n e-pos aan Paarl Post gesê.
“Die verstopping van dreine verskil van gebied tot gebied. In sommige gebiede is dit letterlik dae voordat die dreine weer verstop, en in ander gebiede neem dit weke. In sommige gebiede verstop dreine glad nie en word dit slegs tydens die instandhoudingskedule skoongemaak,” sê Pienaar.