Die uitgerekte stryd rondom Stadsig, die dorpsontwikkeling langs Wellington, het die afgelope paar weke tot stilstand geruk toe Everson Construction, die maatskappy wat aanvanklik verantwoordelik was vir alle bouwerk op die terrein, finaal gelikwideer is.

Die handjievol huiseienaars wie se wonings in Stadsig voltooi was en wat reeds hul wonings betrek het, sê die nuus is vir hulle baie goeie nuus. Bouwerk op die terrein is die afgelope paar maande kragtens ’n sakereddingsplan deur ’n tweede boukontrakteur, CPH Developments, voortgesit. Laasgenoemde onderneming het egter toenemend begin sukkel om vergoeding vanaf die sakereddingsplan vir hul konstruksiewerk op die terrein te ontvang.

Gary Raats, die eienaar van CPH Developments, sê dat toe die uitstaande skulde die R1 miljoen kerf verby begin steek en daar geen betalings vanaf die sakereddingsplan aan sy onerneming uitbetaal word nie, hy gedwing was om te vra dat Everson Construction finaal gelikwideer word.

Die paar huiseienaars wat reeds ten volle vir hul wonings betaal het, se eienaarskap word nie deur die likwidasie beïnvloed nie. Een huiseienaar wie se woning nie volledig voltooi was ten tye van die likwiwidasiebevel nie, het wel in gevaar gestaan om sy woning te verloor indien dit nie op eie koste voltooi word nie. Hy het egter nie oor die nodige fondse beskik nie maar Gary Raats se maatskappy en ’n klompie van die maatskappye wat boumateriaal verskaf, het die eienaar egter te hulp gesnel en die woning word tans op hul koste vir die huiseienaar voltooi.

Gary Raats se onderneming kan nou voortgaan om die eerste fase van die Stadsig-ontwikkeling te voltooi mits voornemende nuwe eienaars sy onderneming direk vir die oprigting van die wonings betaal.

Een van die huidige inwoners van Stadsig sê dat Gary Raats fase een van die ontwikkeling letterlik van ondergang gered het.

“Die bouwerk wat deur die eerste boukontrakteur gedoen is, was pateties. Gary Raats het, toe hy oorgeneem het as boukontrakteur, elke woning wat reeds gebou was of wat besig was om opgerig te word, deeglik nagegaan. Drie van die voltooide wonings is op sy aanbeveling weens strukturele foute platgeslaan. Talle ander wonings moes spesiaal verstewig word omdat die fondamente hopeloos onvoldoende was. Daar was ook baie ander probleme omdat die terrein hopeloos te swak voorberei was vir bouwerk.

Die volgende twee fases van die ontwikkeling moet nog aangepak word. Op die oomblik word daar net op die afhandeling van fase een gekonsentreer.

You need to be Logged In to leave a comment.