Gerber & Co, ‘n bekende modehandelsnaam onder Suid-Afrikaners wat kwaliteit klere maak en verkoop, het ook ‘n wolverwerkingsaanleg in die Paarl geopen wat sowat 800 kg wol per uur verwerk.
Hierdie aanleg is Suid-Afrika se grootste wolverwerkingsaanleg en een wat wêreldwyd wil meeding, volgens Ryan Weideman, Gerber & Co se hoof van verkope en bemarking.
‘n Diens op tuisbodem
Volgens hom moes Suid-Afrika noodgedwonge in die verlede meeste van hul wol uitvoer sodat dit by oorseese wolverwerkingsaanlegte, hoofsaaklik in China, skoongemaak en verwerk kan word, waarna dit weer teen duurste ingevoer word omdat die land geen grootskaalse aanlegte besit het nie.
Nou het Suid-Afrikaanse boere immers die opsie om hul wol plaaslik te verwerk, waarna Gerber & Co die wol vir die boer kan terugggee wat dit dan self kan verkoop.
Wiedeman vergelyk dié diens met ‘n klerewassery, waar boere hul skaapwol kan ingee om skoongemaak en verwerk te word, ‘n fooi te betaal en dan weer terug te kry, maar sê ook in dieselfde asem dat dit nie ál model is wat die aanleg volg nie.
Verskeie gebruike
Volgens hom wil Gerber & Co “in elke deel van die waardeketting” verkoop en bedien. Ander dienste wat die aanleg sluit in om wol te verwerk in verskeie vorme en te verkoop aan handelaars wat die wol in op verskillende maniere gebruik. Dit sluit in as klere, beddegoed, vir troeteldiere en selfs konstruksie.
Hy het ook verduidelik dat Gerber & Co saam met K-Way ‘n pofbaadjie ontwikkel het waar die besigheid die merinowol verskaf het.

Nóg ‘n inkomstestroom vir Gerber & Co is die wolvet wat geklassifiseer kan word as mediese graad lanolien nadat Gerber & Co die nodige toerusting aangeskaf het om hierdie vet, afkomstig van die wol wanneer dit gewas word, te verwerk in lanolien.
Lanolien word gebruik in, onder meer, die kosmetiese bedryf, die dieregesondheidsbedryf of vir besighede wat voer vir diere vervaardig.
By die bekendstelling van die wolverwerkingsaanleg het Gerber & Co ook sewe nuwe produkte bekendgestel, wat insluit Invisi Merino (slaapklere en onderklere), BaaBaa (beddegoed), Karoo Kombers (wolkomberse), GCO Insulation (wol-isolering vir dakke, vloere en mure), GCO Sound Absorption (wol-klankpanele) en ‘n nuwe baadjie gemaak van wol.

Weideman het verduidelik Gerber & Co beplan om eers die plaaslike mark te betree, waarna hulle wol sal uitvoer en “hopelik” ‘n verskil maak in die hoeveelheid onverwerkte wol wat die land verlaat, net om weer teen ‘n duurder prys teruggekoop te word.
‘n Droom tydens droogte
Volgens Stefan Gerber, stigter van Gerber & Co het die maatskappy in 2017 ontstaan toe hy en sy vrou, Francisce, ná ‘n sewe jaar droogte moes besluit hoe om hul plaas ekonomies lewensvatbaar te hou. Hulle het begin eksperimenteer deur hul eie wol te was by hul huis waar hulle die wolvet elke oggend afgeskep het. Teen middel 2018 het hulle hul eerste woltrui gemaak van hul eie plaas se wol.
Die proses
Volgens Weideman gaan die onverwerkte wol wat gewoonlik gemeng is met grond, mis, sweet en takke of blare, deur verskeie prosesse voordat dit gereed is om te baal en te verkoop of te verbruik. Hierdie proses sluit in om eerstens die baal waarin die wol aan Gerber & Co verkoop word, oop te breek.
Daarna word dit vyf keer gewas, en in die tweede en derde bad word die lanolien onttrek, waarna dit weer deur ‘n vierde en vyfe bad gaan.
Die wol word daarna in ‘n oond gebak en drooggemaak en daarna weer gebaal.
Van daar af stuur Gerber & Co die wol na Hextex in Worcester vir verdere verwerking. Alternatiewelik bly dit by die aanleg as ongeweefde produksie waar dit gebruik word vir items soos beddegoed en isoleringsmateriaal.





