By die toekennings is, voor van links, Inus Oosthuizen, Dean Barnard (wenner), Carla Barnard, Pieter Plaatjies en Sas Oosthuizen. Agter is André Bloem en Andries van Zyl.


Dean Barnard (40) is onlangs in die Paarl as die Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar 2024 gekroon.

Dean boer al 19 jaar saam sy pa op Waboomskraal, George, en het agt jaar gelede by sy pa oorgeneem. Hulle boer met hop, pruime, amandels en pekanneute.

In 2002 matrikuleer Dean aan die Hoër-landbouskool Oakdale en studeer ná skool bemarkingsbestuur aan die Nelson Mandela-universiteit vir twee jaar – tot sy pa hom een oggend bel en sê dis tyd dat hy terugkeer plaas toe.

Die Oppie Plaas-boerdery is een van sewe hop-boerderye in Afrika en die voetspoor vir Castle en Castle lite is hop wat slegs in Suid-Afrika geproduseer word. Die boerdery is ook die laaste 15 jaar onder die top-3-hop-produsente. Daarby het die 2023 Autumn Treat-pruim-oes vir hulle net onder 100 ton per ha gelewer. Dean glo ook dat sy 486 g-pruim die Guinness World of Records gaan haal, aangesien die rekord tans 354,37 g is.

Sedert Dean die leisels oorgeneem het, is die vernaamste veranderinge wat hy in die boerdery gedurende die afgelope vyf jaar teweeggebring het nuwe besproeiingstegnologie vir effektiewer en meer ekonomiese waterbesparing, nuwe pruim- en amandelboorde wat aangeplant is en ’n nuwe hop-uitbreiding aangeplant op huurgrond.

“Elke jaar is ’n nuwe uitdaging en ek geniet ’n uitdaging baie. Met die hoeveelheid grond tot my beskikking is dit ’n intensiewe boerdery wat elke besluit laat geld.”

Dean se langtermynvisie vir hul boerdery is om die pruime uit te brei na tussen 15 en 20 ha en om hul eie pakstoor op te rig om hul vrugteoeste te pak, sowel as om dit aan boere in die gemeenskap beskikbaar te stel om te huur.

Inus Oosthuizen, sameroeper van die beoordelaarspaneel, sê die paneel wil graag al die kandidate bedank dat hul hulself, hul gesin en plaas aan die paneel blootgestel het. “Elke kandidaat het nie net ’n mooi storie nie, maar is sowaar ’n uitstekende voorbeeld vir boere in ons land. Elke kandidaat het gewys dit maak nie saak of jy as ’n kleinboer beskou word nie, jy kan dit maak!” Die beoordelaars is ook van mening Dean sal ’n waardige ambassadeur vir jong boere van die Wes-Kaap wees by die Toyota SA / Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie.

You need to be Logged In to leave a comment.