In die Paarl Post van 4 Julie lees ek onder meer van die spoggerige sportgeleenthede in Augustus – die interskole in Paarl en Wellington.

Vanuit die Paarl-Spiekeries-ateljee sê ek dankie vir die berig onder die opskrif: “Maak reg vir interskole”.

Ek wil dus uit ’n klankargief van die legendariese rugbykommentator aanhaal vanuit ’n opname van die vierde toets op Ellispark op Saterdag 27 Julie 1974 tussen die Springbokke en die Britse Leeus.

As die arm van die platespeler sak, sê wyle Gerhard Viviers (Spiekeries) onder meer “in hierrie reeks het die Leeus vir ons hier dinge geleer, net weer – jy speel rugby met stewige voorspelers en daarna met agterspelers”.

Dit is my boodskap aan al die rugbyspanne wat gaan speel in die interskole en derbies vanjaar.

In aansluiting by die berig (4 Julie) se woorde “ondersteuners van ver” – die vraag wat ek vra is: Van waar gaan die verste mense wees wat na die interskole en derbies gaan reis om dit die moeite werd te maak en watter rugbyspeler gaan ’n mooi breekslag maak en daarna druk?

In die berig (4 Julie) is daar sewe groot swart kolle wat klem op die interskole derbywedstryde aandui en dit sluit aan by die onderhoud wat Willem Engelbrecht op die destydse Afrikaanse Radiodiens (vandag RSG) met mnr. Viviers gevoer het nadat hy as bestuurder van sport uitgetree het. Viviers het soos volg gereageer:

“Rugby is te groot. Hy’s ’n great game, soos die Engelsman sê.”

Wie gaan na die spelers uitreik met ’n aanmoediging, byvoorbeeld vir die speler wat die eerste drie druk, deur vir hom iets te gee?

Soos wyle Gerhard Viviers destyds sy brief aan my afgesluit het met die woorde “Geniet jou rugby”, so wil ek ook aan almal sê “Geniet julle rugby”.


Hennie Gerber,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.