Opwindende vermaaklikheid vind vroeg vanjaar by die Taalmonument plaas.Foto:


Oudergewoonte bied die nuwe jaar ’n vol program met heerlike vermaak vir die hele gesin.

Bidsprinkaanmaan kom suutjies nader – vier die nuwe jaar se eerste volmaan by die Taalmonument.

Met die nuwe jaar is dit die perfekte tyd om asem te skep en die volmaan van nader te aanskou tydens ’n heerlike someraand op die pragtige Paarlberg. Kom beleef hierdie natuurlike verskynsel op Vrydag 26 Januarie.

’n Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik vind om 18:30 plaas. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken; daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Genoeg veilige parkeerplek is gratis beskikbaar.

Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek gewy aan die Bidsprinkaan, ’n godsdienstige wese van die San-mense wat oorspronklik oor Suid-Afrika heen gewoon het. In die San-tradisie was die bidsprinkaan ’n soort bedrieër, /Kaggen, die een wat mislei. Met verloop van tyd het hy ook die Nguni-wese geword wat as uThikoloshi bekend staan.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente, pensioenarisse en kinders, en gratis vir kinders onder 6 jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie.

Magiese musiek op die berg

Die alombekende Jeodhouse Band is die sterre van die Taalmonument se piekniekkonsert.

Op Paarlberg se hange sal ’n soel someraand met magiese musiek, perfekte pieknieks en ongelooflike uitsigte help om die eerste maand van die nuwe jaar vaarwel te roep. Dit is danksy die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) wat Saterdag 27 Januarie gasheer speel vir die Jazz-, R&B- en popsensasie Jeodhouse Band by die pragtige, simboliese beeldhouwerk wat een van Afrika se jongste tale gedenk.

Om als te kroon is die eerste kaartjies boonop teen 20% afslag beskikbaar.

Die groep se talentvolle musikante verteenwoordig nie net dekades se musiek- en vermaakervaring nie, maar is bekend om sy toonaangewende optredes wat gehore vasgenael op die dansvloer hou. Die orkesleier en klawerbordspeler, Devanish Hendricks, was onder meer vir meer as vyf jaar lid van die bekende Kaapstadse groep The Rockets.

Die ander lede – van die tromspeler Keagan Links tot die klawerbordspeler Rodney Buys en die gesoute sanger Deidre Hendricks – het almal hul stempels afgedruk op talle feeste en korporatiewe geleenthede.

Hulle het ’n DVD in 2019 vrygestel, met “Summer Party”, “Girl You the One” en “The Wedding Song” wat op die meeste radiostasies lugtyd kry.

Die hekke maak reeds om 18:00 oop en die musiek sal om 20:00 begin.

Buiten die monument en gratis begeleide toer wag daar op die kinders buitelugspeletjies, speelterreine en baie ruimte.

Die geleentheid duur tot 22:00.

Die eerste 200 kaartjies kos slegs R80 per persoon en is by Computicket beskikbaar. Daarna sal hulle teen R100 per persoon verkoop word en, indien enige oorbly, sal hulle op die dag self by die hek beskikbaar wees.

Kontak Stefanie Rasztabiga by 021 863 0543 of kommunikasie@taalmuseum.co.za vir meer inligting.

Jag die sterre op Paarlberg

Inwoners en besoekers sal die skitterende sterrehemel van nader leer ken tydens die ATM se sterrekykpieknieks op Paarlberg op 3 Februarie en 2 Maart. Dit beloof om feestelike aande in die beeldskone omgewing te wees; boonop is ’n pragtige sonsondergang en ’n gratis besoek aan die ikoniese beeldhouwerk ingesluit, én is die aand ten bate van ’n goeie saak.

Gaste sal die heelal verken met behulp van Orion Observasiegroep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope gratis deel.

Die geleentheid begin om 18:00 waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur.

Die toegangsprys is R50 per volwassene en R15 vir onder-18’s; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking (021 863 0543/4809 of vakkundige@taalmuseum.co.za) is noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word.

Laatmiddag met jazz

Die ryk Suid-Afrikaanse en inderdaad Afrika-jazztradisie is die strelende fokus van die ATM se soel sonsak-piekniek op Saterdag 24 Februarie, wanneer jazzsterre dié musiekstyl – gewortel in die vasteland en sy mense – huldig.

Chadleigh Gowar bring vanjaar weer ’n ongelooflike groep talentvolle en ervare kunstenaars byeen wat die gehoor op ’n musikale reis sal neem terwyl die son agter die ikoniese monument wegsmelt.

Lady Felicity & The Trumpets, Richard Ceasar, Brent Cruz en Kinky Afro verteenwoordig ’n verskeidenheid jazz-genres, om nie te praat van hul energieke persoonlikhede en musikale uitvoerings nie. Gowar is ’n Gold Standard Bank Ovation-bekroonde kunstenaar van die Nasionale Kunstefees en baskitaarspeler op kykNET & kie se gewilde Koortjies saam Jonathan Rubain. Die aand se jazz-repertoire sal plaaslike, oorspronklike en Afrikaanse items insluit, asook dansmusiek wat jou die hele aand op die been sal hou.

Die hekke maak reeds om 17:00 oop en die musiek sal om 18:00 afskop.

Vir die kinders wag buitelugspeletjies, speelterreine en baie ruimte.

Kaartjies, wat na verwagting gou gaan uitverkoop, is vooraf by Computicket en die Taalmonument teen slegs R180 per persoon beskikbaar. As daar enige kaartjies oor is, sal dit van 17:00 by die hek verkoop word.

By al die ATM geleenthede is besoekers welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ’n piekniekmandjie te bestel by die Suikerkan by 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za – die bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van Laat ons Lees!, die ATM se geletterdheidsprojek vir kinders. Piekniekgangers word gevra om tweedehandse of nuwe kinderboeke te skenk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article