Die Drakenstein-munisipaliteit het Maandag (3 Maart) op ’n openbare vergadering in die Wellington-stadsaal gesê hy sal alles in sy vermoë doen om inwoners tegemoet te kom wanneer die begroting en tariewe vir die nuwe opkomende boekjaar bespreek en ter tafel gelê word – dít te midde van talle residensiële eiendomme wat volgens die onlangse waardasies met sowat 60% in waarde gestyg het.
Dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, en ’n afvaardiging het inwoners toegespreek nadat talle eiendomseienaars hul misnoeë te kenne gegee het sedert die nuwe waardasierol bekendgemaak is.
Die munisipaliteit het op die vergadering volgehou eiendomswaardasies, wat elke vier jaar plaasvind, is ’n onafhanklike proses waarby die plaaslike regering geen invloed het nie.
Op die vergadering was dit duidelik die meeste inwoners is nie so erg bekommerd oor die waarde van hul eiendomme wat gestyg het nie, maar wel oor watter impak dit gaan hê op die moontlike styging in hul eiendomsbelasting.
Munisipale eiendomsbelasting is ’n sent-bedrag in die rand wat op die markwaarde van eiendom gehef word.
Dit word bereken deur die markwaarde van die eiendom met ’n sent-bedrag in die rand-koers, wat ’n munisipale raad bepaal het, te vermenigvuldig.
Byvoorbeeld: Indien die markwaarde van ’n eiendom R50 000 is, en die sent-bedrag in die rand-koers is R0,015 (wat 1,5 sent is), is die bedrag verskuldig vir eiendomsbelasting R50 000 x 0,015 – dus R750 vir die hele jaar, wat beteken dat die eiendomseienaar elke maand R62,50 (dit word bereken deur R750 deur 12 te deel aangesien die jaar 12 maande het) aan die munisipaliteit moet betaal.
Sommige inwoners het op die vergadering geëis dat die “formule” wat tydens die waardasieproses gebruik is, aan die publiek bekend gemaak word.
“Kry die waardeerder volgende keer by sulke vergaderings om die proses te verduidelik. Dit kan nie wees dat my en my buurman, wie se eiendomme dieselfde oppervlakte beset, met sowat R300 000 tot R500 000 ná hierdie waardasie verskil nie,” het een inwoner gesê.
Die adjunkburgemeester, Gert Combrink, het op die vergadering twee onlangse mediaberigte aangehaal wat verwys na die massiewe toestroming na dorpe in die Wes-Kaap soos die Paarl, Stellenbosch en Franschhoek.
Hy het gesê die groot vraag na eiendom kan beteken dat die pryse van eiendomme in hierdie gebiede skerp kan styg.
Leibbrandt het op sy beurt inwoners daaraan herinner die inkomste wat deur eiendomsbelasting gegenereer word, word op dienste bestee. Dit sluit in nooddienste, paaie en stormwater, verkeer en veiligheid, straatligte, parke, sport, begraafplase en oorde, swembaddens, biblioteke, maatskaplike dienste, korporatiewe dienste en die instandhouding van gehoue.
Intussen het die munisipaliteit diegene wat ongelukkig is met hul waardasies aangemoedig om besware in te dien.
Dié vorm is by alle munisipale kantore asook op die munisipaliteit se webblad beskikbaar.
Alle besware moet teen 24 Maart ingedien wees.
Die munisipaliteit se onafhanklike waardeerder het dan tot 29 April om al die besware na te gaan.
Sou ’n eiendomseienaar daarna steeds nie gelukkig wees nie, kan ’n appèl tussen 30 April en 2 Junie ingedien word, wat dan voor die onafhanklike appèlkomitee sal dien.
Enige ander navrae oor waardasies kan gerig word aan valuation@drakenstein.gov.za