BREEDEVALLEI – Die meeste matrieks en graad 7-leerders in die streek het Maandag 1 Junie teruggekeer skool toe. Dit het gemengde gevoelens by veral onderwysers ontlok.

Standard het by onderwysers van die dorp gaan hoor hoe gemaklik hulle is om terug te keer skool toe.

“Ons is baie gerus en opgewonde om leerders weer terug by die skool te verwelkom. Vir die inperkingsperiode het ons aanlyn klasgegee en ons kon agterkom die leerders mis mekaar,” sê ’n onderwyseres by HTS Drostdy, Liezel van Deventer.

Van Deventer noem verder HTS Drostdy het almal koppe bymekaar gesit om alles in orde te kry en dat ouers, leerders en onderwysers gerus kan wees dat alles in ooreenstemming is met die verpligte reëls en regulasies.

By die Laerskool Wynland het Lorraine van der Merwe gesê sy is “bang, maar positief” oor skole wat heropen. “Dit is belangrik om weer daardie basiese higiëne by ons kinders in te skerp om seker te maak dat ons die risiko kan verminder. Ons het maatreëls by die skool ingestel en ons gaan seker maak dat dit geïmplementeer word,” sê Van der Merwe.

Volgens haar het sy ook reeds haar alarm op haar foon vir elke uur gestel om haar sodoende te herinner dat sy weer die bottel ontsmettingsmiddel moet rondstuur in die klas sodat leerders hul hande kan ontsmet en selfs hul tafels.

In De Doorns by Hexvallei Sekondêr, wat getref is deur drie sterftes tydens die inperking, sê die skoolhoof, Arnold Mei, hulle is “versigtig optimisties” oor die terugkeer skool toe.

“Dit is aan die een kant ’n goeie ding dat ons leerders, veral die matrieks, weer kan terugkeer skool toe om die akademiese jaar te red. Die werklik­heid is dat die speelveld baie ongelyk is omdat ons steeds sukkel om leerma­te­riaal by die leerders uit te kry tydens die inperking en daarom is die terugkeer vir ons noodsaaklik sodat almal weer onderrig kan ontvang,” sê Mei.

Hy noem hulle is regtig in ’n “wipplank-situasie” by die skool omdat hulle graag wil terugkeer vir die kinders se onthalwe, maar daar is tog die vrees dat grootskaalse besmetting en moontlike lewensverlies ’n moontlikheid is.

Onderwysers is Maandag 25 Mei terug skool toe om voor te berei vir die leerders wat hulle binnekort weer terug gaan verwelkom.

You need to be Logged In to leave a comment.