Die langdurige sage rondom die Safmarine-saal in Wellington – waar Community Youth and Family Services (CYFS) tans gevestig is, het weer op die voorgrond getree op die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se onlangse raadsvergadering op 26 November. Die VF Plus het ’n dringende mosie voorgelê om te bespreek op watter gronde CYFS die saal teen einde November moet ontruim, maar die mosie het nie geslaag nie. Altesaam 28 raadslede het teen die mosie gestem, 24 ten gunste daarvan, en een raadslid het nie gestem nie.
Die DM se kantoor van die Speaker het op 28 November ’n verklaring op sosiale media uitgereik waarin teruggekap word ná kritiek teen die munisipaliteit. Daarin word beklemtoon dat die Safmarine-saal aan die DM behoort, “wat volle verantwoordelikheid vir die wettige besetting daarvan behou.” Die verklaring lui verder dat die saal laat in 2024 aan CYFS verhuur is “ingevolge ’n vaste-termyn-huurooreenkoms vir ’n tydperk van drie maande, wat sedertdien verval het”.
Paarl Post het vroeër berig dat ’n assessering van die gebou reeds in 2019 gedoen is, waartydens bevind is dat dit nie geskik is vir gebruik nie. Die DM het destyds oorweeg om die saal te sloop, maar is later deur Henry Jacobs (stigter van CYFS) genader om die perseel te huur, waarna hy restourasiewerk op eie koste aangepak het.
LEES MEER: ‘Hands off!’ Gemeenskap staan op vir Safmarine-saal
Volgens die verklaring is “die munisipale raad in besit van ’n wettig uitgereikte slopingsertifikaat wat wesenlike veiligheidsgebreke aan die eiendom identifiseer.”
“Die perseel is aan CYFS verhuur onderhewig aan ’n onderneming dat die huurder die gespesifiseerde gebreke sou herstel om enige veiligheidsgevare wat ’n risiko vir gemeenskapslede kon inhou, te verminder. Alhoewel regstellende werk onderneem is, het ’n opvolginspeksie deur DM se ingenieursdienste-afdeling bevind dat die eiendom steeds struktureel onstabiel en ongeskik vir bewoning is weens die aanhoudende veiligheidsgebreke wat geïdentifiseer is.”
Die raad het gevolglik besluit om die huurkontrak nie te hernu nie.
Die DM se ingenieursdienste-afdeling is tans besig met verdere tegniese evaluerings, waarna “’n gedetailleerde verslag aan die raad voorgelê word waar ’n finale besluit geneem sal word oor die opknapping en toekomstige benutting van die saal.”
Petisie teen die uitsetting
Op 25 November het Jacobs, sowel as Christene Persens (CYFS se gemeenskapsbeampte), Michael Scholtz (pastoor en voorsitter van CYFS se godsdienstige- en beradingsplatform) en Lee Ann Jacobs (jeugambassadeur van die Verenigde Nasies se Jeugverenigings van Suid-Afrika), ’n petisie aan die DM oorhandig nadat CYFS vroeër die maand ’n formele kennisgewing ontvang het om die saal te ontruim.
Jacobs het vroeër aan die koerant bevestig dat hy regsadvies ingewin het om die DM se uitsettingsproses teen te staan. Hy het gesê dat hy nie die DM se skrywe aanvaar nie en dat CYFS nie die saal teen 1 Desember sal ontruim nie.
Die vreedsame optog van 25 November, wat by die munisipale gebou geëindig het, was bedoel om gemeenskapslede se misnoeë oor die besluit uit te spreek.
Politieke spanning
Die DA het reeds in Oktober op ’n raadsvergadering teen die hernuwing van CYFS se huur gestem. As meerderheidsparty het dié besluit die finale uitkoms bepaal. Die munisipaliteit het wel ’n openbare deelnameproses in Oktober goedgekeur oor die moontlikheid van ’n tweejaar-huurtermyn en ’n 90-dae-tydperk van onmiddellike okkupasie om verdere vandalisering te voorkom.
CYFS se werk in die gemeenskap
CYFS bestuur tans sowat 46 programme wat hulle self finansier. Dit sluit dwelm- en bende-intervensies, jeugwerksessies, vroeëkinderontwikkelingsprogramme en ondersteuningsgroepe vir mans en vroue in. Jacobs, wat in 1998 met die bou van die Safmarine-saal gehelp het en in die GPF dien, sê hy het “dadelik ingegryp toe hy die stand van die Safmarine-saal sien.”

In ’n verklaring wat onlangs op sosiale media verskyn het, beweer Jacobs dat “politiekery veroorsaak het dat CYFS se huurkontrak deur die DM opgeskort is”.
Hy voer aan dat sekere DA-raadslede kantoorruimte in die saal wou hê, en dat sy weiering daardie raadslede “ontstel het”.
Hy sê CYFS het in Februarie vanjaar ’n uitsettingskennisgewing ontvang, wat volgens hom later verbaal deur ’n senior amptenaar teruggetrek is. Ná die mees onlangse raadsvergadering is hy glo weer ingelig dat die DA teen die hernuwing van die huur gestem het.
Munisipaliteit reageer
Koos le Roux, Speaker van die DM, het vroeër aan die koerant verduidelik dat die besluit om die huur nie te hernu nie gebaseer is op “voorskrifte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde (SANS) rakende die okkupasie van geboue en veral die veiligheid van die gemeenskap.”
By navraag oor die toekoms van die gebou het Le Roux gesê: “Die DM se planne met die saal sal afhang van die veilig maak van die gebou en die begrotingsimpak daarvan.”





