Chaos het losgebars by Magnolia-woonstelle in Paarl-Oos toe die gemeenskap toegesak het op ‘n vermeende dwelmhandelaar se woning.


Een man is dood en nog talle ernstig beseer toe chaos losgebars het in Paarl-Oos vandag, toe die gemeenskap hul stemme dik gemaak het teenoor dwelmsmouse in die gebied.

Volgens ‘n betroubare bron het die gemeenskap van Magnolia-woonstelle toegesak op die woning van volgens hulle ‘n bekende dwelmsmous wat veral goedere onder die jeug versprei.

Hulle het klippe en bottels na die woning gegooi waarna verskeie skote vanuit die woonstel op die skare geklap het.

Twee strydende faksies het toe ook inmekaar gevlieg met messe en pangas waartydens talle beseer is.

Paarl-Oos polisie het by navraag in ‘n Whatsapp boodskap gesê dat die polisie omstreeks 11:30 vandag ‘n klag ontvang van ‘n skietery in Magnolia. Met die aankoms op die toneel wou niemand met die polisie praat nie en hulle het vertrek. Na ‘n rukkie is die polisie weer na Magnolia ontbied, waar hulle gevind het dat een persoon in albei bene geskiet is en ‘n skare mense wat onder mekaar baklei.

Mense is met pangas aangerand en met klippe gegooi.

Die polisie het ingetree en nadat hulle die skare onder bedwang gebring het is daar ontdek dat ‘n nog ‘n persoon in die kop geskiet is en dat ongeveer agt mense veelvuldig wonde opgedoen het toe hulle met pangas en klippe aangeval is.

Al die slagoffers is per ambulans asook privaat voertuie na die Paarl-hospitaal vervoer vir mediese behandeling.

Twee verdagtes is in hegtenis geneem. Die klagtes teen hulle is nog nie bekend nie.

LEES VOLGENDE WEEK VERDERE BESONDERHEDE IN PAARL POST.

You need to be Logged In to leave a comment.