Dit was soos ’n vuishou in die maag toe Rodney Andrews Maandagoggend (24 Februarie) tot die besef kom dat sy motor gesteel is.
“Dit is ’n onbeskryflike gevoel veral om in die eerste plek te ontdek op jou nugter maag [dat my kar gesteel is]. Dit het gevoel asof alles in duie stort. Die sleutels lê hier binne, maar die kar is nêrens te vinde nie. Ek het nie geweet waar om te begin soek nie. Ek sal dit nie eens vir my worst enemy daai gevoel wil toeskryf nie. Elke voertuig wat ons gesien wat soos my kar lyk was amper soos opgewondenheid [wat op in my gekom het],” sê Andrews.
Sy suster Mack-Lizé Francis vertel hulle was almal die oggend op pad in hul eie rigtings om die dag aan te pak. Haar broer het met die motorsleutel uitgekom en gesê “my kar is gesteel”.
“Eers het ons vir hom gesê hy moet seker gaan maak of sy seun by die huis is want hy het dalk gou iewers gery, maar sy seun was nog binne die huis.”
Die motor is gesteel vanuit Begoniastraat in Paarl-Oos, waar dit voor die familie te woning geparkeer was.
“’n Saak is geopen by die Paarl-Oos polisie. Iemand het ook vir my in kennis gestel om te sê toe hulle op pad werk toe is, het hulle die kar gesien by die Groenheuwel biblioteek. Nog ’n persoon het kontak gemaak met my nadat ek die nuus op Facebook gesit het, en vir die gemeenskap gevra het om op die uitkyk te wees vir die kar. Die man het vertel dat mense die kar verby sy huis gestoot het. Dit is ook in die gebied van die Groenheuwel biblioteek by die Zama-Zama informele nedersetting.”
Volgens Francis is die motor deur die loop van die nag gesteel, maar hulle kan nie presies sê wanneer omdat hulle geslaap het.
“Ons weet vir ’n geruime tyd word die karre gesteel in die nuwe gebied naby die nuut geboude sentrum in Groenheuwel, maar by ons was daar nog nooit karre gesteel. My man se kar was al telke malle oop vergeet. Ons is nie seker of iemand vooraf beplan het om die voertuig te steel. Ons het niks gehoor nie en die honde het ook nie geblaf nie.”
Francis vertel dit is nie die eerste keer dat haar broer se motor gesteel is nie.
“Sowat vyf jaar gelede is ’n vorige motor van hom gesteel vanuit die parkeerarea van ’n winkelsentrum in Stellenbosch. Daai motor is ongelukkig nooit weer teruggevind nie.”
Die familie saam met die Paarl-Oos polisie het elke leidraad opgevolg en die voertuig is later dieselfde dag gevind in Sarah Robertsstraat in die Zama-Zama informele nedersetting. Francis sê die motor is nog in ’n goeie kondisie, hoewel dit van ’n paar goed gestroop is.
“Toe ek uiteindelik my kar kry, ongeag in watter toestand, was dit net weer ’n lekker gevoel. Agterna het ons gesien wat die skade aan die kar is, maar nog steeds is dit die lekkerste gevoel toe ek my kar teruggekry het. Ek eintlik nie werklik beskryf hoe ek gevoel het toe ek my kar terugkry, want dit is die tweede keer wat ek al daai experience deurgemaak het.”
Kapt Basil Seekoei, woordvoerder vir die Paarl-Oos-polisie, het bevestig dat die polisie se sigbare polisiëringeenheid gehelp het om die motor op te spoor.
“’n 19-jarige verdagte is deur beamptes aangekeer op ’n aanklag van diefstal van ’n motorvoertuig en sal in die Paarl-landdroshof verskyn wanneer hy aangekla word.”