Cousin Dan se e-pos het ’n foto van $150 se note en die woord serendipity. Voordat ek verder kan lees, gaan die krag af.
Serendipity. Ons Engels-onderwyser het die betekenis daarvan, aan die hand van die Niël Ferreira-insident, verduidelik. Hy het gesê: “Serendipity is an unexpected discovery or event leading to a happy ending. It was serendipity that Niël found the beehive and serendipitous that someone found Niël.”
* Niël en Vissie (wat net oorkant die dorp se swembad gebly het) was groot vriende. Vissie se ouers het al twee gewerk en hul huishulp, Johanna, het die fort smiddae gehou. Die huis, op ’n groot boomryke erf, was bedags die versamelplek van die buurt se kinders.
So gebeur dit dat Vissie en sy vriende op ’n dag ’n reusagtige byekorf in ’n akkerboom op die erf ontdek. Gou word planne beraam om die bron te benut. Niël kom vorendag met ’n plan om die heuning met sy duikpak en duikbril en tekkies vir die klimslag uit te haal. Die res van die buurt se kinders moet net regstaan met die rokende lappe en aanvat soos hy aangee.
Die plan was van die begin af meer gefokus op die groter prentjie as op die fynere detail. Niël het nie op die dag van die heuninguithalery voorsien dat ’n duikpak, selfs op ’n koel dag, baie warm kan raak en dat hy verwoed sou begin sweet nie, ook nie dat die hitte en sweet sy duikbril sou laat toewasem en dat sy helpers die huis in sou verdwyn toe die eerste bye begin moeilik raak nie.
Reeds halfpad die boom op moes Niël noodgedwonge sy duikbril oplig om beter te kan sien. Die eerste bye, aangevuur deur die reuk van sweet, het die opening benut soos iemand wat van die steelkant af ’n drie gaan druk. Ná die eerste beskeie aanval is selfs die reserwemag werkerbye opgekommandeer om tot die aanval oor te gaan. Met sy eie hulptroepe reeds in die veiligheid van die huis, het Niël besluit om ook die aftog te blaas en skuiling te gaan soek.
Johanna het die hele petalje deur die sitkamervenster dopgehou. Sy het gesien dat Vissie na die voordeur mik om in te kom. Soos die rots by die graf in Getsemane het sy voor die deur stelling ingeneem. Dit sou ’n bonatuurlike krag verg om haar daar weg te kry.
“Vissie,” het sy gesê, “jy weet jou ma het gesê as sy weer by die huis kom en die plek lyk soos ’n varkhok gaan jou pa jou bliksem.”
Vir Niël het sy deur die toe deur geskree “gaan spring in die swembad!”
Die bye het soos ’n mantel om Niël gehang; sommige het reeds onder die kopstuk van sy duikpak ingekruip en hom daar begin steek.
Ander het in sirkels om sy duikbril saamgedrom sodat sy gesig gelyk het soos ’n pan vol opgepofde paasbolletjies wat in ’n warm oond gerys het.
Die swembad was reeds vir die winter gesluit. Niël het oor die pad na die swembadheining geskiet en met iets soos ’n Fosburry Flop op steroïede oor die heining (doringdraad en al) geseil en in die swembad geduik. Hy het later vertel dat hy drie keer vir asem opgekom het en elke keer het die bye soos ’n eskadron kamikaze-vliegtuie laag oor die water gevlieg en hom weer bygedam. Gelukkig het hy aan die vlak kant gaan sit en met elke aanval sy kop en skouers onder die water ingetrek.
Hy het dit later reggekry om homself teen die swembadtrappie op te trek met sy bolyf wat op die sementstene om die rand rus, waar die swembadopsigter hom gekry het. Ek kan nie onthou of hy in die hospitaal beland het nie, maar mense het gesê dat hy gelukkig was om te lewe en dat Johanna ’n veel groter ellende voorkom het deur hom uit die huis te hou waar die ander kinders weggekruip het.
Vissie se ma het Oom Byeboer laat kom om die korf uit te haal en sy het vir Niël se ma ook van die heuning gestuur, maar Niël het teen daardie tyd sy lus daarvoor verloor.
Toe die krag aankom, lees ek die res van Cousin Dan se e-pos. Hy het die geld op sy middagetensuur in Time Square in New York, opgetel. Hy simpatiseer met die beutkrag. “Stage four load shedding sounds like stage four cancer.”
Hy sluit af: PS. Please don’t mention the money to anyone. I would hate for people to find out that the streets of New York aren’t really littered with money.
Ek skryf terug en sluit af; PS. Just had a serendipitous thought. Perhaps you could send some of your windfall to the Mozambique relief fund. I would rather deal with stage four than sitting on my rooftop with crocodiles swimming around in my yard.
*Skuilname gebruik.