Oom Sakkie, Wellington se bekende en geliefde haarkapper, is verlede week na ’n beroerte oorlede.
Izak van der Vyver het meer as 60 jaar lank Wellington se mans se hare gesny – hy word trouens deur sommige beskou as die manshaarkapper met die langste diensrekord in Suid-Afrika, of dalk selfs in die wêreld. Hy het lank sy haarkappersalon vanuit ’n perseel in Kerkstraat in Wellington bedryf voordat hy ’n paar jaar gelede die salon na sy woonhuis in Milnerstraat verskuif het. Dáár het hy tot in sy negentigste jaar in 2014 elke dag getrou Wellington se mans se hare gesny.
Hy het gedurende sy werksjare graag vertel dat hy in alle opsigte ’n gebore manshaarkapper is. Hy is op Ladismith in die SuidKaap gebore en grootgeword. Na skool is hy as klereontwerper opgelei. Hy het sy beroep aanvanklik op Porterville en later in die Paarl beoefen. In die Paarl het hy op ’n dag gehoor dat ’n bekende Paarlse haarkappersalon in die mark is.
“Ek was van kleintyd af in my hart eintlik ’n haarkapper,” het oom Sakkie enkele jare gelede by sy aftrede as haarkapper vertel.
Sy oudste broer, Willie, het ook ’n haarkappersalon op Ladismith gehad. Sakkie het as jong seun elke middag Willie se salon vir ’n sakgeldjie uitgevee. Later het Willie hom geleer om hare te sny. Na skool het hy wel ’n kursus in klereontwerp gaan volg en later sy eie besigheid bedryf, maar hy kon die haarkapperstorie nie uit sy gedagtes kry nie. Hy het die haarkappersalon in die Paarl gekoop en ’n tydlank ’n kursus as haarkapper in die aande in die Kaap gevolg.
In 1946 het hy besluit om sy salon van die Paarl na Wellington te verskuif en so het hy, tot sy aftrede 67 jaar later, onlosmaaklik deel van die dorp geword.
Sedert sy finale aftrede in 2014 het oom Sakkie sy salon in die huis gebruik as die plek waar hy die heel graagste sy oudag verwyl het. Die vertrek staan vandag verlate in die huis. In die middel van die vertrek staan die groot rooi stoel waarop honderde Wellingtonse mans oor die jare gesit het terwyl oom Sakkie hulle hare sny.
“Na my aftrede het ek graag in die rooi stoel gesit en dink oor die lewe,” het oom Sakkie onlangs nog vertel. “Ek het skielik ontdek watter rol daardie rooi stoel in my gewildheid as haarkapper hier op die dorp gespeel het. Die stoel sit deksels lekker! Ek kan my voorstel dat ’n man wat heeldag plaaswerk staan en doen het nie kon wag dat sy hare weer lank genoeg uitgegroei het om weer ’n slag in die lekker stoel te kom sit en ontspan nie!”
Oom Sakkie word oorleef deur sy seun Jacques en dogter Engela Ferreira, sy kleinkinders en sy agterkleinkinders. ’n Troosdiens ter ere van hom is op Maandag 31 Julie in die kerkgebou van die APK op Wellington gehou.