Dominee Diamon de Vries, wat ’n groot steunpilaar was vir baie mense in die gemeenskap, het Dinsdag afgesterf. Hy was 80 jaar oud.
De Vries het vir 24 jaar gedien by VGK Hugenote tot in 2002. Voor dit het hy in 1970 begin in die bediening in Oudsthoorn waar hy vier en ’n half jaar gedien het, en daarna vir drie jaar in Hawston.
De Vries was ook die voorsitter van Badisa in die Paarl.
“Sy grootste legacy wat hy agterlaat is sy regverdigheid en hy was altyd positief, maak nie saak hoe negatief ’n situasie was nie. Hy het ’n manier gevind om dit te draai in die positiewe in en hy het baklei vir geregtigheid sy hele lewe lank,” vertel sy dogter Maryna Gie.
Sy beskryf haar pa as iemand wie baie lief was vir lees en ook baie liefde getoon het aan sy medemens.
De Vries se vrou, Marinda, sê sy gesin, en ook om ander gesinne in die gemeenskap te help dra, was baie belangrik vir haar man.
“Hy was eintlik iemand wat die gesin in die gemeenskap baie op die hart gedra het. Hy het ook gereeld gesinsweke gehou by die kerk om mense ook te help oor hoe ons teenoor mekaar moet optree in ons gesinne. Hy was regtig baie lief om oor die gesin te praat en ander te help as daar probleme is.”
Alhoewel De Vries lank terug afgetree het, was hy nog tot vier weke gelede in diens toe hy ’n vriend van hom begrawe het.
Volgens Maryna het haar pa prostaatkanker gehad en TB is onlangs ook by hom gediagnoseer.
De Vries sou volgende week, op 24 November, sy 81ste verjaarsdag vier. Hy laat agter sy vrou, Marinda, twee dogters Maryna en Inez de Vries, asook drie kleinkinders.
De Vries se begrafnis vind hierdie Saterdag plaas by VGK Hugenote.
Die besigtiging is om 12:00 en die diens begin om 13:00.


