Baldansers, jonk en oud, is geskok ná die skielike dood van Joanne Adams die afgelope naweek. Sy was ’n geliefde baldansafrigter en het ook trourokke gemaak.
Lucia Falmer, Adams se jonger suster, sê sy is Saterdag dood aangetref in haar woning in Paarl-Oos.
“Daar word vermoed sy is Saterdag oorlede. Toe ons Saterdag by haar huis aankom, het ons haar dood in die huis gekry. Ons vermoed dit kon haar hart gewees het, want sy was eintlik siek gewees,” vertel Lucia.
“Sy het alleen gewoon en sou by ons broer gaan woon het. Dan sou ons net kom seker maak alles is nog reg by haar huis, maar toe is sy so stubborn. Joanne het toe verder alleen gewoon en wou nie eens gehad het enigiemand moet by haar intrek nie. Ons het maar altyd gaan kyk of sy nog orraait is en dan het ons broer altyd vir haar kos geneem. Saterdag toe ons haar kos geneem het, het my seun deur die venster geklim en dit is toe dat hy haar dood in die kamer kry.”
Falmer vertel dat haar suster ’n dansskool in die Paarl gehad en baldans afgerig het.
“Sy het 40 jaar baldans-klasse gegee, kompetisies gereël en mense na plekke toe geneem waar hulle kon gaan dans. Nou die dag het iemand wat sy afgerig het, genoem van al die plekke waar sy hulle geneem het om te dans, plekke wat hulle nooit gedink het hulle sou sien nie.
“Sy het ook Joanne’s Bridal Shop gehad, hier in Klein Drakenstein-weg op die stoep. Ek het ook vir 24 jaar saam met haar by die winkel gewerk. In 2016 het sy die winkel se deure gesluit en by die huis het sy en haar dogter aangegaan met rokke maak.”
Volgens Falmer is Adams se dogter, Julianna Falmer, vyf jaar gelede oorlede.
“Ons dink sy het meer getreur oor haar dogter, want sy het altyd gesê sy wil na haar kind toe gaan. Sy het baie na haar kind verlang. Julianna is kort ná haar 50ste verjaarsdag aan kanker oorlede. Sy het nie eens geweet sy het kanker nie.”
Falmer beskryf haar suster as ’n lieflike mens, baie grapperig en iemand wat daarvan gehou het om te dans.
“As sy net kon dans en kinders kon leer by haar – daai was haar passie gewees, regtig. As ons vir haar gesê het sy moet nou stop met die dansery, want sy is ’n mooi ouderdom, dan het sy altyd gesê: ‘Nee, julle sê nie vir my nie. Ek sal aangaan tot ek nie meer die dag kan nie.’ Ek moet sê sy het gelewe vir haar dans.”
Adams word Vrydag (23 Junie) ter ruste gelê. Dit vind om 09:00 by Lantanastraat 147 plaas en daarna by die Rooms-Katolieke kerk in Barbarossastraat in Paarl-Oos.