Met die oog op Internasionale Geletterdheidsdag en met die lente op ons, wat kan nou lekkerder wees as om ’n piekniek te hou – met ’n lekker leesboek om jou geselskap te hou?
Dit was die blink idee waarmee Dalweide Primêr vorendag gekom het. Voeg daarby ’n vennootskap met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se leesprojek, en jy het die perfekte idee om Internasionale Geletterdheidsdag te vier.
Volgens die dryfkrag agter die leespiekniek, juffrou Grizelda Daniels, hoof van die skool se grondslagfase, was die skool al lank op soek na ’n kreatiewe manier om leerlinge se vlak van geletterdheid ’n verdere hupstoot te gee.
Gevolglik is daar besluit om op dié dag skoolgaan vir die leerlinge meer opwindend te maak en terselfdertyd by leerlinge ’n liefde vir lees te kweek.
’n Telefoonoproep na die SBA se kantoor het gevolg – en siedaar, die leespiekniek het ’n werklikheid geword. Aanvanklik was die idee om die piekniek buite op die sportveld te hou, maar met die lentereën moes plan B inskop en is die piekniek na die saal verskuif.
Die SBA het opgeleide voorlesers saamgebring wat die heerlikste stories vir die grondslagfase-leerlinge voorgelees het, waarna die boeke aan die skool geskenk is.
Die skoolhoof, Allison Naidoo, is opgewonde dat die skool voortaan deel van die SBA se opwindende Zoe-leesprojek sal wees. Tydens gesprekke met die leerlinge was almal dit eens: Lees is lekker, veral as jy dit met ’n lekker eetdingetjie in die hand uit ’n piekniekmandjie kan doen terwyl jy luilekker onder die kombers vertoef.