Inwoners van die New Rest- informele nedersetting in Wellington sê ten spyte van die hof wat in 2016 teen ’n uitsettingsbevel van die Drakenstein-munisipaliteit beslis het, wag hulle nou al bykans agt jaar vir die gebied om elektrisiteit te ontvang.
Hulle sê hulle het dus geen ander keuse nie as om (ten duurste) krag van huishoudings in die nabye buurt te verbind nie.
Volgens die inwoners is die gemiddelde maandelikse diensfooi vir hierdie soort verbinding sowat R300 en van hulle word verwag om tot R800 per maand vir hul verbruik te betaal.
Amelia Ross, een van die ontstoke inwoners, het aan Paarl Post gesê dit is “waansinnig” dat inwoners gedwing word om hierdie roete te volg.
Sy sê hierdie informele nedersetting verdien dieselfde basiese dienslewering wat ander woonbuurte in die omgewing ontvang.
“Ons besetting van die grond is deur die hof wettig verklaar, dus is ons geregtig op hierdie dienste. Dis mos nie asof ons verniet krag wil hê nie. Ons mense sal betaal, die munisipaliteit moet bloot net ons krag kom aanlê.”
Paarl Post verstaan dat ’n groep inwoners die grond in 2016 beset het.
Die Drakenstein-munisipaliteit het destyds ’n uitsettingsbevel bekom om die sowat 50 plakkers te laat verwyder.
Die besetters het hulle toe na die landdroshof in Wellington gewend om dié bevel teen te staan en die hof het in Mei 2016 ten gunste van die inwoners beslis.
Volgens Ross is verskeie versoeke sedertdien aan die munisipaliteit gerig vir die gebied om water, elektrisiteit en ’n behoorlike rioolstelsel te ontvang.
“Ons het intussen water en toilette ontvang, maar tot vandag toe is daar net twee krane en 10 toilette opgerig. Hier is nou amper 60 huishoudings en almal van ons moet van hierdie beperkte geriewe gebruikmaak.”
Thobani Mooi, die raadslid vir wyk 7, wat New Rest insluit, was ook verlede week teenwoordig tydens Paarl Post se besoek aan die nedersetting.
Hy sê hy stem ooreen met die inwoners dat hulle geregtig is op waardige dienste.
“Hierdie beperkte toilette hou gesondheidsrisiko’s vir inwoners in. Ek het al verskeie griewe namens hierdie gemeenskap aan die raad geopper.”
Paarl Post het ’n e-pos-skrywe onder die oog gehad, wat in Oktober verlede jaar deur Mooi aan onder meer die stadsbestuurder gerig is en waarin hy wou weet of daar enigsins planne in die nabye toekoms is om die gebied met krag te voorsien.
Dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, het in daardie stadium aan Mooi gesê dat die munisipaliteit nie genoeg geld of hulpbronne het nie.
Intussen sê Ross dit ontstel hulle dat ander ’n ander informele nedersetting in die gebied wat eers onlangs ontstaan het, wel krag ontvang het.
Sy sê hierdie nedersetting se inwoners het vir etlike dae na die munisipaliteit se kantoor opgeruk.
“Hulle het gedreig dat hulle chaos sal veroorsaak en dis toe die munisipaliteit aan hul versoek toegegee het. Ons mense wat lank voor hulle hier is en op ’n vreedsame wyse ons versoeke rig, word blatant geïgnoreer.”
Louis Pienaar, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir ingenieursdienste, het by navraag aan Paarl Post gesê dit is “onwaarskynlik” dat dié informele nedersetting in die nabye toekoms krag sal ontvang.
“Elektrisiteitsverbindings vir ons geregistreerde informele nedersettings maak meestal staat op finansiering in die vorm van toelaes en kan slegs geïnstalleer word as ons grootmaattoevoernetwerk voldoende kapasiteit het om die bykomende lading of aanvraag te hanteer.
“Gegewe die uitdagings wat hierbo uiteengesit is rakende ons grootmaatvoorsieningsvermoë en beskikbare finansiering, is dit onwaarskynlik dat hierdie huishoudings binne die korttermynbegrotingsraamwerk elektrifisering sal ontvang.”
Hy het bygevoeg die munisipaliteit is ook nie “verplig” om elektrisiteit aan sy 43 informele nedersettings te voorsien nie.
“Ons mandaat is om water, riool- en vullisverwyderingsdienste te voorsien.”
Volgens Pienaar is die twee openbare krane en 10 toilette wat aan die bykans 60 huishoudings voorsien is, voldoende.
“Nasionale norme en standaarde vir basiese dienste spesifiseer dat een toilet beskikbaar moet wees vir elke 10 strukture en ’n waterstandpyp binne ’n 100 m radius van die strukture.





