Hoewel daar ’n toename in kinkhoesgevalle in die land onder kinders is, is daar geen rede vir ouers van Drakenstein om bekommerd te wees nie.
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het die styging in kinkhoesgevalle in Suid-Afrika opgemerk. Die simptome van kinkhoes is soortgelyk aan dié van ’n gewone verkoue. Dit sluit in ’n toe of loopneus, seer keel en ’n droë hoes. Die gehoes vererger dus ná ’n paar dae van infeksie gevolg deur onbeheerde hoes-episodes.
Die hoes word gekenmerk deur ’n “kink”– klank. Sommige pasiënte met kinkhoes ervaar naarheid na hoes-episodes.
Nios het in ’n verklaring gesê kinkhoesgevalle het veral vroeër vanjaar toegeneem toe maatreëls oor die dra van maskers verslap is. Van die begin van die jaar tot middel September is 147 gevalle opgeteken.
Dit sluit 77% kinders in wat onder vyf jaar is en 79% babas jonger as drie maande.
Kinkhoes word soms oorgedra wanneer die mens wat geïnfekteer is, hoes en nies. Dit kan ook deur speeksel en fisieke kontak oorgedra word.
By navraag oor kinkhoesgevalle by TC Newman-kliniek en Paarl-hospitaal het Sandra Maritz, kommunikasiebeampte van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement se Kaapse Wynland-distrik, gesê:
“Daar was geen gevalle van kinkhoes by TC Newman CDC die afgelope tyd nie, maar wel enkele gevalle by Paarl-hospitaal. Dit is nie buitengewoon nie. Ons vra wel dat ouers of voogde hul kinders beskerm teen siektes soos kinkhoes deur jong kinders vir roetine immunisering te neem.
“Immunisering is gratis en is doeltreffend om jou kind teen ernstige siekte te beskerm.”. Although there is an increase in whooping cough (pertussis) cases in the country among children, there is no reason for Drakenstein parents to worry.

