Ek skryf hierdie brief in die hoop dat dit onder die aandag van ons plaaslike leiers en die gemeenskap van Paarl sal kom, aangesien vorige pogings om hierdie saak op te los, soos plasings op Facebook, onsuksesvol was.

Elke Sondag word krieketwedstryde op die veld tussen Mountain View en New York gespeel, waar ’n groot aantal mense byeenkom om na die wedstryde te kyk. Ongelukkig word geen toiletgeriewe vir die toeskouers voorsien nie. Dit lei daartoe dat byna 90% van die kykers alkohol gebruik en dan die nabygeleë Mountain View-parkie as ’n openbare toilet benut.

Die gevolg is dat die eerste twee huise langs die parkie gereeld blootgestel word aan mense wat teen hul vibracrete- mure urineer en selfs ontlasting daar laat. Die uriene vloei oor na die ander kant van die mure, wat ’n ondraaglike stank veroorsaak. Ons pogings om met die oortreders te praat, is tevergeefs, aangesien die gedrag voortduur sodra ons wegdraai. Dit is ’n vernederende situasie vir ons as volwassenes en veral vir ons kinders wat blootgestel word aan mans wat hulself in die openbaar ontbloot.

Verder word elke Maandag skoonmaakdienste in New York se landjie uitgevoer, maar Mountain View se parkie word verwaarloos, wat ons dwing om met die voortdurende reuk van urien en ontlasting, wat tot in ons slaapkamers indring, saam te leef.

Ons het ons demokratiese plig nagekom deur te stem toe dit van ons verwag is, maar dit voel asof ons nou in die steek gelaat word deur diegene wat ons vertrou het om ons gemeenskap te verbeter.

Dit is onaanvaarbaar dat ons gemeenskap se behoeftes so verontagsaam word.

Ek doen ’n beroep op die betrokke owerhede om dringende aandag aan hierdie saak te gee. Ons benodig behoorlike geriewe by die krieketveld om te verhoed dat ons parkie as ’n openbare toilet gebruik word. Dit is noodsaaklik vir die gesondheid en welstand van alle inwoners van Mountain View.


Bekommerde inwoner,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.