Die dae snel verby, en oor twee en ’n half weke is dit wraggies Kersfees! Sommige winkels het reeds in Oktobermaand Kersversierings opgehang, en jy hoor reeds die bekende Kersliedjies kliphard oor die luidsprekers, wat jou natuurlik impulsief na Kersgeskenke gaan laat begin soek en koop, al was dit nie eens op jou lysie nie.

Dalk is jy ook soos ek wat elke jaar met Kerstyd besef dat ek eintlik reg deur die jaar geskenke moes gekoop het (daai afslag-artikels by tye), want alles raak al hoe duurder hierdie tyd van die jaar.

Van kospryse wil ek nie eens praat nie. Dan is daar in hierdie tyd nog werklikwaar mense (jonk en oud!) wat glo hulle moet krismisklere koop of kry.

Met loadshedding in gedagte, wat ons almal teen hierdie tyd goed weet Eskom besluit wanneer ons sonder krag moet klaarkom of nie, hoop ek van harte mense sal nie al daai klomp verskillende soorte vleise, disse, slaaie en trifles (wat gewoonlik tot die volgende dag in die yskas staan) maak nie, want verbeel jou dis oor Kerstyd fase ses!

Nee, ek glo darem nie régtig dit sal die geval wees nie, maar dit sal darem ’n groot gemors wees, nè?

Oor die algemeen glo ek mense gee hopeloos te veel geld uit, en vir baie is die betekenis en rede van Kersfees lankal nie meer belangrik nie, maar gaan dit eerder – of meer – oor die kuier rondom kos, drank en partytjie hou.

Ons moet almal leer om baie meer aan ander te dink as onsself. Ons moet bid dat die deur van onse hart sal oop wees om te sien wat en vir wie ons iets betekenisvol kan doen.

Verlede jaar het drie organisasies – Kairos House of Hope, Drakenstein Biblioteeken Kindersorg Paarl – ’n Kersete vir minderbevoorregte kinders gehou. En ek het weer besef toe ek na die kindergesiggies kyk, dís wat ons moet doen – uitreik na ander wat minder of selfs niks nie het.

Ek het ook weer eens mense se oop hart gesien – hulle na wie ons uitgereik het om bydraes te lewer sodat ons ten minste vir elke kind ’n geskenk kan gee, vermaak, ’n lekker bord kos en ook voorlesings en ’n Kersboodskap. Ek is so dankbaar as ek op die sosialemediaplatforms lees hoe organisasies en individue aan die werk is om rondom Kerstyd uit te reik na minderbevoorregtes, oral.

Ek wil jou vroegtydig uitdaag om hierdie Kerstyd saam met my ’n random acts of kindness-“projek uit te voer – nie dit wat jy gewoonlik met familie en vriende doen nie. As jy jou lysies begin maak oor wat om rondom Kerstyd te doen of te koop, dink byvoorbeeld daaraan om iets vir iemand of mense te doen wat dalk alleen is; iemand wat jy kan uitnooi vir ete of vir wie jy ’n bord kos kan neem. Dalk is jy ?ook alleen. Jy het miskien ’n geliefde aan die dood afgestaan, of wat jou omstandighede ook al kan wees, en jy weet Kerstyd gaan vir jou moeilik wees, so begin tref nou al reëlings om iets vir iemand te doen. Ek belowe jou, net die gedagte daaraan gaan jou sommer nou al beter laat voel.

Jy ken byvoorbeeld iemand in die straat of in jou buurt wat te eniger tyd, tydig en ontydig, vir almal daar is. Onthou die kosbare mense wat sopkombuise bestuur en dag ná dag kosmaak en uitdeel, jou kind of kleinkinders se onderwysers . . . Ag, daar is tientalle idees waaraan ek kan dink, en ek glo jy ook. Dis almal mense of iemand na wie toe jy kan gaan om hulle spesiaal en gewaardeer te laat voel.

Glo my vry, jy hoef nie eens ’n geskenk te gee nie. Dalk is daar iemand wat sommer ’n handgemaakte kaartjie sal waardeer, maar selfs ook net jou teenwoordigheid – gehalte-tyd met jou. Niemand is onaangeraak wanneer hulle na ander uitreik nie. Dis ’n besonderse gevoel, sonder om ’n bohaai daaroor te maak, om iets vir iemand te doen, veral as dit nie verwag word nie.

’n Chinese gesegde lui: “A bit of fragrance always clings to the hand that gives roses.” As jy van só iemand wegstap, sal jy die geur met jou nog lank saamdra, en dalk ook so iemand motiveer om dieselfde te doen. Ek sou wat wou gee om te weet wat jou random acts of kindness-idee is!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article