Inwoners wat hulle beywer vir die veiligheid van Bainskloofpas het ’n petisie begin om ’n tolhek by dié historiese pas te laat oprig in die hoop dat padreëls gehoorsaam word, maar nie almal stem saam met hierdie moontlikheid nie.
Die pas is ’n gewilde roete vir toeriste, stappers en fietsryers wat die natuurskoon geniet en sluit ook verskeie inwoners in wat daagliks van die pas gebruik maak.
Aangesien vragmotors en ander voertuie langer as nege meter en hoër as 3,87 m die pas onwettig gebruik en verkeersopeenhopings veroorsaak, is inwoners raadop oor die pas se toekoms.
’n Petisie is op 2 Februarie deur Henry van der Schyff begin om dié uitdagings aan te durf, wat ook insluit rommelstrooiing, alkoholgebruik/misbruik, parkering op onwettige plekke asook brandstigting deur, onder andere, godsdienstige groepe wat rituele uitvoer.
Die petisie het reeds meer as 500 handtekeninge ontvang met die uiteindelike doel om 1 000 in te samel.
Die petisie verduidelik dat die pas “geteister word deur onwettige aktiwiteite en ’n gebrek aan wetstoepassing het”.
Volgens Van der Schyff, wat die pas reeds vir ongeveer 18 jaar sy tuiste noem, is die grootste doel van dié petisie om ’n gesprek tussen die pas se inwoners asook die plaaslike regering en wetstoepssing aan te help.
Hy verduidelik dat daar ’n “paar vrae rondom die petisie is,” maar sê dat almal dieselfde einddoel in sig het – om die pas te beveilig.
“Parkeerplekke wat vir besoekers en toeriste bedoel is, word misbruik as drinkplekke, wat die genot van die pas vir wetsgehoorsame burgers belemmer, en swaar voertuie wat nie veronderstel is om daar gebruik te word nie, veroorsaak skade aan die pad, wat lei tot verhoogde instandhoudingskoste en hou ’n gevaar vir ander padgebruikers in,” sê Van der Schyff.
Volgens Jandré Bakker, ’n woordvoerder vir die provinsiale departement van infrastruktuur, is nog geen planne opgestel om ’n tolhek by Bainskloofpas aan te bring nie.
“Sou ’n tolhek in die toekoms oorweeg word, sal dit ’n uitgebreide konsultasieproses verg,” het Bakker gesê.
Andy Connell, ’n inwoner wat reeds sedert 2020 in die pas woon en hom ook beywer om die pas veiliger te maak, sê hy is gekant teen die idee van ’n tolhek, omdat dit nie toeganklik gaan wees vir Jan Alleman wat sy sente twee keer moet omdraai nie.
Volgens Connell gaan dit mense – veral diegene wat die pas daagliks gebruik – se lewenskostes in ’n reeds sukkelende ekonomie verhoog.
Hy sê ’n beter en meer permanente oplossing kan insluit om polisiëring in die pas te verskerp en om versperrings, soos sementblokke, wat die pad nouer sal maak, by albei ingange van die pas aan te bring, wat swaar voertuie sal keer om die pas te betree.
“Die vragmotorbestuurders weet hulle mag nie die pas gebruik nie, maar hulle luister nie. Hulle jok en sê hul GPS het hul hiernatoe verwys. Daar is duidelike kennisgewings wat vragmotorbestuurders waarsku om nie die pas binne te ry nie.”
Volgens hom is beter samewerking tussen Cape Nature asook plaaslike en provinsiale verkeersdepartemente, soos die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur, wat volgens Connell nie die probleme in die pas oplos nie, ook belangrik.
Connell, saam met ander inwoners van Bainskloofpas, beplan eersdaags ’n groot vergadering tussen verskeie rolspelers om die uitdagings in meer diepte te bespreek.
Die Franschhoekpas ervaar deur die jare dieselfde tameletjie met vragmotors wat die pas betree en later vasval weens die haarnaalddraaie.
Deur die jare was Franschhoek-inwoners ook kampvegters vir ’n tolhek, maar só ’n projek is nog nie op die tafel nie.