Van links is Dawie Theron (Silwerkruin-beheerraadvoorsitter), Yvonne Booysen (bestuurder van Silwerkruin), Adri van Zyl (sekretaresse), Malene Hartman (hoof van die ACVV-kantoor) dr. Elna von Schlicht (voorsitter van die ACVV) en Johan Rademeyer (tesourier van die ACVV) wat as seremoniemeester by Silwerkruin se 50ste verjaardagviering opgetree het.


Silwerkruin is gebou op liefde en geloof en vier vanjaar 50 silwer jare.

Dié groot mylpaal is verlede week by ’n vonkelgeleentheid gevier en is uitstekend deur die gemeenskap en ook inwoners van die tehuis vir seniors ondersteun.

Vanjaar is ook ’n besondere jaar vir die ACVV se Wellington-tak.

Dr. Elna von Schlicht, die ACVV-voorsitter, het in haar jaarverslag hulde gebring aan die legendariese stigtingslede wat die grondslag vir Silwerkruin gevorm het.

Die geldsake van al drie afdelings van die Wellingtonse ACVV-tak is kerngesond. Dié drie behels die Silwerkruin-tehuis vir senior inwoners, die dienssentrum en die ACVV-winkel. Die bestuur en personeel van al drie werk hard en is altyd bereid om die sogenaamde “ekstra myl” te stap.

Silwerkruin het tans 125 inwoners. Van hulle is 23% selfversorgend, 44% gedeeltelik selfversorgend en 33% heel­temal sorgafhanklik. Die tehuis is baie trots op hul “Memry Lane”, die afdeling vir inwoners met dementia. Dié inwoners word met liefde en deernis versorg.

Erelidmaatskap is aan ’n aantal besondere mense, onder wie Marie van Biljon (postuum), ’n stigterslid van Silwerkruin; Delena Malan (wat in daardie stigtersjare gehelp het met geldinsamelings), asook Anél Pepler, toegeken. Laasgenoemde twee was deur die jare by talle deernisprojekte vir die inwoners betrokke.

Erelidmaatskap is voorheen aan die enigste oorlewende stigterslid, Ria Retief, toegeken. Ria is 91 jaar oud en is self ’n inwoner van die tehuis.

Pragtige gelukwense is aan Silwerkruin oorgedra deur ds. Lettie Buchner (namens die gemeenskap), dr. Dirk Hattingh (namens die inwoners) en Elsje Buchner (namens die ACVV-hoofkantoor).

Dawie Theron, die voorsitter van die Silwerkruin-beheerraad, het ’n heildronk op Silwerkruin ingestel en terselfdertyd is ’n R10 000-skenking deur dr. Elna von Schlicht aan die bestuur oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.