Die venynige “aanvalle” op mekaar deur raadslede Fourie (VF+) en Combrink (DA) in Paarl Post die afgelope twee weke rakende die begroting het my onrustig en teleurgesteld gelaat.
As inwoners verwag ons dat raadslede beskaafd met mekaar, soveel te meer in die pers, sal omgaan. Met die oog op koalisies van partye met soortgelyke waardes in die tyd tot die 2024-verkiesing is dit nodig om gesprek-voering op ’n konstruktiewe wyse te voer. Dis immers waaroor demokrasie gaan. Die alternatief is dat die huidige wanfunksionele regering slegs hoef te wag dat aggressiewe koalisievennote mekaar aftakel en so die verkiesingsuitslag op ’n skinkbord verkry.