Hierdie is die storie van Gawie van Rooyen. Gawie werk al 16 jaar vir Du Plessis Vervoer in Wellington, en glo dit nou of nie, hy was nog nie ’n enkele dag af siek ná al die jare nie!
Ek het nou al vele kere die groot plesier gehad om vir Gawie op die pad te kry, met sy groot blink wit trok en sy oranje handskoen wat waai. Dit is net ’n klein dingetjie, maar wat tog so vinnig ’n mens se dag kan maak. Soveel so, dat my dogtertjie vreeslik opgewonde raak oor hierdie buitengewone trokdrywer-held.
Nou kyk ons uit vir hom op die pad. Maar kom ek vertel julle hoekom.
Diegene van julle wat ook die R44 of die R301 gereeld gebruik, en selfs die vele paaie in die wynland van tyd tot tyd bestuur, het heel moontlik ook al vir Gawie teëgekom.
Die oranje handskoen gee hom weg. Hy is die vriendelikste en hulpvaardigste man agter die stuur van ’n trok wat jy ooit sal kry. Hy het die gewoonte om al wat om hom op die paaie is te help. As hy nie besig is om vriendelik vir elke liewe kar te groet nie, is hy besig om soos ’n professionele motoris te beduie om veilige bestuur op die paaie toe te pas.
As ’n skrywer bestuur ek gereeld hierdie paaie. En ek het my verstom aan hierdie man met sy helder oranje handskoen wat dit totaal sy besigheid maak om die paaie veiliger te maak. Ek moes hom net persoonlik ontmoet.
En so besoek ek vir Du Plessis Vervoer en ontmoet die eienaars, oom Jan en tannie Bettie du Plessis. Al 38 jaar in die besigheid, vervoer Du Plessis Vervoer wyn op en af tussen kelders oral in die Boland. Klein Jan du Plessis werk ook vir sy pa, en Elzaan hul dogter, werk in die kos- en wynbedryf.
Gawie bly al sy hele lewe in Vanwyksvlei, Wellington. Hy is gebore in Hexberg, getroud met Joanna en hulle het twee seuns.
Ek vra toe bietjie vir hom waarom hy besluit het om so ’n voorbeeld te word vir trokdrywers. Sy antwoord aan my was as volg: “Ek het besluit as ek hierdie glove dra, kan ek mense makliker wys as daar ’n probleem op die pad is. Ek stop gereeld waar daar ’n ongeluk plaasgevind het, of wanneer daar diere oor die pad beweeg, sodat ek kan bydra tot veiligheid op ons paaie.”
Hoe reageer die publiek op jou, vra ek, en hy verduidelik; “Daar is sommer ’n verandering aan hulle ryery! Hulle draai ruite af as ek hulle stop en hulle gesels graag met my. Selfs die mense wat in die wingerd werk, groet my al as ek verby ry.”
Oom Jan sê agterna: “Dis hoekom Gawie se Tracker op sy trok my altyd verbaas. Hy’s altyd op schedule met aflewerings, maar daarna word hy ’n verkeersbeampte, en gee sy bydrae tot die veiligheid van ons bestuurders op die pad.
“Ons is baie trots op Gawie, hy is ’n goeie invloed op al ons drywers en toon vir Du Plessis Vervoer ’n goeie voorbeeld op die pad.”
Ek vra Gawie toe verder wat hy die meeste van sy werk geniet? Hy antwoord: “Ek geniet alles. Met manne te verkeer, my baas te ondersteun, nuwe mense te leer en te help. Ek wil daar wees as hulle my die nodigste het, my span en die mense op die pad.”
Ek hoop dat Gawie (met sy oranje handskoen) en die res van die drywers ’n verskil sal maak aan die negatiewe reputasie van trokdrywers in die land.
* Rene Reece is ’n vryskutjoernalis en skrywer van Wellington.